GEORGE NUUS - 'n Reeksverkragter, Ivan Athenkosi Johannes (20) van Thembalethu, is vanoggend in die rondgaande hooggeregshof in George tot 210 jaar tronkstraf gevonnis met ‘n bykomende drie lewenslange vonnisse.
Johannes het 17 aanklagte van onder andere verkragting, ontvoering en roof met verswarende omstandighede teen hom.
Hy het ‘n pleitooreenkoms met die staat gesluit en skuldig gepleit op al die aanklagte teen hom. Sy vonnisse sluit in vyf 25-jaar, vier 15-jaar en vyf 5-jaar vonnisse. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Luidens die klagstaat is verskeie minderjarige kinders, tussen die ouderdom van 7 en 13 jaar, tussen Januarie 2015 en Augustus 2016 in Thembalethu deur die beskuldigde verkrag.
Hy het die kinders in ‘n speelparkie naby die Multi Purpose-sentrum, waar hulle saam met hul vriende gespeel het, onder valse voorwendsels weggelok en helder oordag verkrag. Hulle moes hom of help met fietse of help soek na verlore geld. Die slagoffers, meestal seuns en een dogter, is dan met ‘n mes of kapmes gedreig om saam met hom in nabygeleë bosse te gaan waar die misdade gepleeg is.
In een van die eerste voorvalle op 8 Januarie 2015 het die beskuldigde vyf jong seuns (tussen 7 en 11) in die speelpark genader en hulle na die bosse gelok met die belofte dat hy vir hulle fietse sou gee. In die bosse het hy na bewering die seuns gedreig en een van die seuns (8) aangerand en verkrag. Hy het na bewering ook twee van die seuns gedwing om die ander twee te verkrag.
Van die slagoffers is ook van hul besittings beroof.
Johannes is deur forensiese bewyse met van die voorvalle verbind en van die slagoffers het hom tydens ‘n uitkenningsparade positief uitgeken.
Die saak het gedien voor regter ED Wille en adv. E Kortjé is die staatsaanklaer.
Lees meer hieroor in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'