GEORGE NUUS - 'n Geliefde onderwyseres van George Preprimêr, Colette Rossouw, was aangenaam verras toe sy Sondag 1 Desember in die Botaniese Tuin deur kinders van haar gr. R Geelklas ingewag is met 'n heerlike afskeidspiekniek.
Hulle het haar bederf met blomme, geskenkies en 'n piekniekmandjie propvol lekkernye. Sy het ook 'n baie spesiale skilderdoek ontvang waarop die klas van 2019 die geleentheid gekry het om hul handafdrukke te maak met juffrou Colette s'n reg in die middel. 'n Klompie geel ballonne is ook losgelaat.
Rossouw was vir bykans 20 jaar aan George Preprimêr verbonde waarvan sy die laaste ses jaar onderhoof was, hoewel sy steeds aanhou klasgee het.
"Sy was amper 'n instelling by George Preprimêr. Baie mense het hulle kinders by dié skool ingeskryf sodat hulle deur Colette se hande moes gaan," het een van die ouers, Michelle Pienaar, gesê.
Rossouw het die gr. RRR-klas by George Preprimêr begin.
Van die kinders van die Geelklas van 2019 saam met juffrou Colette Rossouw. Foto: Lionel Daniels.
Sy was diep geraak deur die afskeidsgebaar en het gesê die skool en sy mense is soos familie vir haar.
"Hulle het my ondersteun in slegte en goeie tye. Veral in 2009 toe ons huis afgebrand het, het die personeel en ouers hulle harte en sakke vir ons oopgemaak. Met die geboorte van ons dogtertjie in 2012, was hulle net so opgewonde soos ons."
Sy was lief daarvoor om tydens pouse op die speelgrond te sit en die kinders dop te hou.
"Ek hoor dan goed by hulle wat ek met hulle gedeel het. Dis asof ek stukkies van myself in hulle kan sien."
Sy gaan nou vir eers meer tyd saam met haar familie spandeer, maar sal in die toekoms graag weer iewers in die gemeenskap betrokke wil raak waar sy 'n verskil kan maak in kinders se lewens, wat haar passie is.
Juffrou Colette maak haar handafdruk in die middel van die doek voordat die kinders hulle beurt kry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'