Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het onlangs ‘n werksessie in George aangebied waar kundiges ‘n verskeidenheid onderwerpe oor kinderbeskerming aangeraak het. Die lesingsaal was volgepak met rolspelers uit die hele Eden-distrik. George-hooflanddros Les Strydom het oor die Kinderhof gesels, Gerda Marx, ‘n staatsaanklaer, het gepraat oor statutêre verkragting en Gerda Terblanche het die kennisgewingsprosedures wanneer ‘n tiener swanger is toegelig. Angelique Vezagie se praatjie het gehandel oor die rol en funksie van FCS.
Kleuters van die Sugar and Spice-kleuterskool het die gehoor se harte gesteel met ‘n sangitem.
Slagoffers van verkragting kan deur die hof (‘n magistraat in sy kamers) aandring dat ‘n vigstoets uitgevoer moet word op die misdadiger. As die verkragter bewus was van sy HIV positiewe status, kan hy aangekla word van poging tot moord. Indien die oortreder weier om ‘n toets te ondergaan, kan die polisie aansoek doen by die hof vir ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname.
Die resultate is streng vertroulik en kan net bekend gemaak word aan ‘n beperkte kategorie van geaffekteerde persone. Post Exposure Prophylaxis (Pep), ‘n antivirale terapie wat die risiko van HIV-infeksie verminder, is beskikbaar sedert die kabinet in April 2002 toestemming gegee het dat dit aan slagoffers beskikbaar gestel moet word.
Pep moet egter binne 72 ure van die verkragting vir ‘n tydperk van 28 dae geneem word.
Dit is egter ‘n probleem dat slagoffers ‘n kriminele klag by die polisie moet lê.
Nog ‘n probleem is dat daar ‘n 90-dag vensterperiode is voordat ‘n geïnfekteerde persoon HIV-positief sal toets, wat beteken dat die toets op die oortreder nie noodwendig sal wys as hy positief is nie.
(1).jpg)
Die Sugar and Spice-kleuterskool se kinders het afgevaardigdes by die inligtingsessie bekoor met ‘n liedjie.