GEORGE NUUS - Sy was soos 'n kind in my huis. Só beskryf Ant Susan Gordon (83) van Pacaltsdorp, self een van die slagoffers van Bonnie Brink-Lawrence, haar verhouding met die plaaslike sakevrou.
Bonnie, wat talle van haar nabye vriende na bewering uit miljoene rande bedrieg het, se liggaam is op 15 Mei in 'n veld langs die pad na Victoriabaai gevind.
Die liggaam was reeds in 'n gevorderde stadium van ontbinding en haar man, Quinton, het haar aan haar juweliersware en klere uitgeken, maar 'n nabye familielid het op eie onkoste DNS-toetse laat doen om te bevestig dat dit wel haar liggaam is.
In 'n onderhoud met Ant Susan by haar huis in Europe, is haar seun, Jonathan Gordon en dogter, Jolene Noble ook teenwoordig. Jolene het Bonnie in 2016 ontmoet en 'n paar jaar later was hulle boesemvriende. Dis ook hoe Jonathan, 'n oudleerder van Quinton, vir Bonnie ontmoet het. Hy en sy gesin en sy ma woon saam.
"Jy weet ons het mettertyd gemaklik geraak in ons geselskap met mekaar as familie en oor goed soos finansies gepraat. As ek terugdink dan is dit asof sy ons gesit en uitluister het om ons later om die bos te lei," vertel Ant Susan.
Bonnie Brink-Lawrence
"Sy was byna elke dag hier in my huis, soms het sy heeldag hier vertoef. Sy was deel van ons familie en het my selfs Mamma genoem. Ek het baie dae vir haar en haar man, Quinton gekook. Sy sou die kos soggens aflaai en smiddae kom haal," vertel Ant Susan.
Sy sê Bonnie het skelm gerook en het soggens of in die middae onder die boom by die braai 'n "skyfie kom trek".
"Haar geel en blou handskoene lê nou nog daar agter in die drom, sy sou dit aansit vir die reuk. Sy het tot 'n tandeborsel, tandepasta en parfuum gehad om die reuk te versteek voor sy weg is huis toe."
Ant Susan raak tydens die onderhoud met oomblikke erg ontsteld as sy praat oor Bonnie se verraad, maar ook hartseer. Sy sê sy wou nie aan die "ekstra geldjies" van haar raak nie. Dis geld wat sy gekry het na die dood van haar seun, Lionel.
"Die geld het my nie gepla nie, maar Bonnie het aangehou dat ek die geld moet belê en gesê ek sal goeie rente kry. Sy was amper opdringerig. So het sy my op 'n dag in Maart 2022 kom haal vir my Covid 19-inenting by 'n kliniek by die Mall, na sy daarop aangedring het om my te neem. En sommer so in die loop, stel sy voor ons gaan bank toe sodat ek die geld kan oorbetaal," vertel Ant Susan.
Ant Susan wys die handskoene wat Bonnie sou aansit wanneer sy skelm daar kom rook het. Foto: Lizette da Silva
"Ek het nie my geldsake met haar bespreek nie, maar sy was hier in die huis by ons. Ons het haar vertrou, sy was soos familie. Dis uit ons gesprekke met mekaar as huismense wat sy so baie van ons geweet het. Ek besef ook nou sy het baie van die mense wat ingeloop is, so uitgevang. Sy het haar huiswerk op almal gedoen. Sy het hier in my huis soos 'n slang ingeseil en ons verraai. Nooit in my wildste drome sou ek dink dat sy ons so sou verraai nie," vertel Ant Susan.
Jolene self sukkel met die verraad. Sy het nie net baie geld verloor nie, maar ook 'n boesemvriendin. Sy en haar man, Cecil, het self meer as 'n miljoen rand verloor nadat die geld deur Bonnie se maatskappy, BBL Corporation, op sogenaamde oorsese markte belê sou word.
"Mens is jammer dat die ding so moes eindig, niemand wou sien dat sy moes sterf nie. Ek raak kwaad vir dit wat sy gedoen het, die lewens wat sy verwoes het. Ons is erg hierdeur geraak en so ook die ander slagoffers.
"Ons bly egter biddend want sommige dae… dis moeilik," vertel Jolene.
Jolene sê sy het laat verlede jaar onraad vermoed toe Bonnie nie haar man se geld uitbetaal nie. "Toe sien ons vir die eerste keer 'n ander kant van haar. Sy het in Desember 'n afspraak met Cecil gehad want hy wou weet oor sy geld, maar by hulle huis is hy lelik daar weggejaag."
Hulle het op 23 Desember 2023 kriminele klagtes teen Bonnie aanhangig gemaak.
Jonathan deel 'n soortgelyke ervaring en sê Bonnie was soos familie en dat hulle werklik vir haar omgegee het. "Behalwe dat sy so baie by ons huis was, het sy saam met Jolene gewerk en ek ken haar man. Hy het destyds vir my biologie op skool gegee en was 'n goeie onderwyser. Skaam en stil, maar baie goed. Bonnie het gehoor ek het klaargemaak by Telkom en my genader om my geld te belê waarop ek op 'n paar geleenthede eers nee gesê het. Sy het my 'n paar keer genader en later is ek en my vrou alleen na haar huis genooi vir ete."
Nog 'n slagoffer wat op voorwaarde van anonimiteit met die koerant gepraat het, sê hulle is onlangs deur die polisie meegedeel dat die bankrekeninge leeg is. "Waar is die geld heen?"
Dit is een van die talle vrae waarmee die slagoffers worstel.
Daar is ook gerugte van leidrade wat Bonnie kort nadat sy op 15 Januarie uit George verdwyn het, in Namibië plaas en weke voor haar liggaam gevind is, in Johannesburg.
Ant Susan sê sy wil nie hê die DNS-uitslae moet bevestig dat dit Bonnie is nie, niemand het haar ooit enige leed toegewens nie. "Maar ek sukkel om te glo dit is sy. Hier is te veel goed wat nie sin maak nie. Sy moet uitkom en terugkom om te kom verduidelik wat sy gedoen het. Sy het my gesin finansieel verwoes."
Sers. Chris Spies, die Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het gister gesê die uitslae van die nadoodse ondersoek is nog nie beskikbaar nie.
George Herald kon ook nie vasstel of die uitslae van die DNS-toetse al bekend is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’