GEORGE NUUS - Hierdie is my kinders, ek wil seker maak hulle kry iets lekkers vir Kersfees! So het Jacobus Gertse, 'n gemeenskapsleier van Proteapark gesê, met sy inisiatief om 215 lekkergoedpakkies in Proteapark en Le Vallia uit te deel.
Gertse en twee kamerade het Dinsdag die strate ingevaar met die hoop om 'n glimlag op gesiggies te sien.
Hulle is beslis nie teleurgestel nie, want skaars het hul voertuig gestop of die kinders het nader gestaan. Van die kleuters is bygestaan deur ouer kinders en almal is daar weg met 'n glimlag.
Gertse het soos Kersvader aangetrek en gesorg vir baie opwinding.
Gertse, ook 'n George-raadslid, reken dit is belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap waar jy woon. "Dit gee my soveel vreugde om te voel ek maak 'n verskil, as is dit net 'n klein verskil," het hy gesê.
"Mense besef nie altyd hoe swaar dit met sommige gesinne gaan nie. Dit is die kinders wat in hierdie situasies baie weerbaar is. Kersfees is hier vir ons almal, en niks gee my meer vreugde as om kinders gelukkig te maak nie."
Clinton Cairncross, Jacobus Gertse as Kersvader en Esgoudi Hobbs tydens die uitreik in Proteapark. Foto: Michelle Pienaar
Lekkergoed bly 'n lekker verrassing! Foto: Michelle Pienaar
Dis Kersfees! Foto: Michelle Pienaar
Zera Julies (1) het ouer maatjies wat help dat sy ook 'n pakkie kry. Photo: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’