GEORGE NUUS - Soos elke jaar sedert 2003 is die bejaardes van Golden Valley in Blanco kort voor Kersfees met 'n lekker ete bederf.
"Ek en my ma, Sabiena van Tonder, het saam die etes in 2003 begin," vertel Jenny Mattys, 'n gemeenskapslid en die huidige organiseerder van die etes.
"Ná sy in 2012 oorlede is, het ek daarmee voortgegaan. Almal in die gemeenskap was baie lief vir my mammie. Hulle het haar ook 'Mammie' genoem omdat sy so diep in almal se harte gekruip het.
FOTOGALERY: Kersete vir Golden Valley se bejaardes
"Haar huis het altyd vir almal oopgestaan en sy het niemand weggewys nie. Hierdie jaar was hier eintlik min mense. Hulle raak elke jaar minder soos hulle tot sterwe kom.
"Die eerste keer was hier amper 300 mense. Ons het destyds eers begin om vir die kinders sop uit te deel en toe begin ons na die bejaardes ook omsien," sê Jenny.
Sy bied elke jaar die ete gratis aan en betaal uit haar eie sak vir al die bestanddele.
Vanjaar het sy ook 10 minute afgestaan om die bejaardes wat nie meer hier is nie, te onthou.
Zettie Coetzee het 'n boodskap uit die Bybel gelees en Pat en Johnny van Eden FM se Party Time with Pat and Johnny het die gaste moed ingepraat en 'n paar staaltjies vertel.
"Ek sal dit elke jaar doen, want ek weet nie of ek volgende jaar nog hier gaan wees nie," sê Jenny.
Selfs tydens die Covid-inperking het sy dit reggekry om kospakkies aan die bejaardes uit te deel en elke jaar sit sy 'n glimlag op die bejaardes se gesigte – al is dit net vir 'n paar ure lank.
Jenny Mattys (staande agter) deel 'n oomblik saam met Sarah Apollis, Katy Davids, Lizzy Claassen, Soph Oktober en Lina Jacobs. Foto's: Kristy Kolberg
Martha Maka, Maria Matthys, Rita Carelse, Siena Figland en Solly Meiring geniet die ete saam.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'