GEORGE NUUS - Kerkgeboue was vanoggend verlate omdat dienste nie gehou kon word as gevolg van die nasionale inperking. Die hekke by die kerkgeboue was gesluit en by sommige was kennisgewings wat die situasie verduidelik. Nêrens is klokkespel gehoor nie.
Van die gemeentes het aanpassings gemaak en godsdienstige boodskappe per elektroniese kommunikasie aan lidmate gestuur.
Ds. Steve van der Walt, leraar van die NG Moedergemeente, het gesê dit is waarskynlik die eerste keer in meer as 200 jaar dat daar nie kerkdienste op 'n Sondagoggend in George is nie. Hy het bygevoeg, gegewe die omstandighede, dat hy begrip het vir die situasie.
By dié gemeente is ook aanpassings gemaak. Hy neem die boodskappe op en plaas dit dan op YouTube.
Past. Johan du Toit van die Nuwe Lewe-gemeente in Heather Park het gesê hy het nooit kon droom dat so 'n dag sou aanbreek nie.
Hy is al 36 jaar in die bediening en dit is die eerste keer dat so iets gebeur. "Gewoonlik vra ons mense om kerk toe te kom. Nou vra ons hulle om by die huis te bly."
Hy het begrip vir die situasie en hy het mense gevra om asseblief tuis te bly. "As gevolg van die algehele inperking moet mense die landswette gehoorsaam. Du Toit het gevra dat mense mekaar in ag moet neem. “Mense moet tuis bly omdat hulle mekaar liefhet."
Past. Johan du Toit van die Nuwe Lewe-gemeente in Heather Park. Foto: Eugene Gunning
Die kennisgewing by die Anglikaanse kerk. Foto: Eugene Gunning
NG kerk Bergsig.
Bikers Church.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'