GEORGE NUUS - Die Bikers' Church van George het onlangs 'n nuwe perseel in Derdestraat, George-Oos, aangeskaf en bykomend tot hul kerk, het die gemeente aan die begin van die jaar 'n nuwe privaat skool vir tuisleerders op dieselfde eiendom oopgemaak.
'n Buurvrou, Constance Young, kla oor die "stoornis" van kinders wat in die dag op die perseel is en kerkaktiwiteite saans gedurende die week. Sy sê die bure is nie vooraf in kennis gestel van die skool nie.
"Dis een te veel. Dis deesdae net op Saterdae dat daar geen aktiwiteit hier langs ons is nie. Die lidmate se motorfietse raas ook. Ek kan nie glo die munisipaliteit laat dit toe nie. Klagtes daar val op dowe ore."
In reaksie op die George Herald se navrae oor die aangeleentheid, het dit gelyk asof die munisipaliteit kleitrap met hulle eie ordonnansie oor die sonering van die eiendom.
Die kerk het na aanleiding van die navraag, 'n kennisgewing ontvang waarin hulle beveel word om 'n aansoek vir hersonering in te dien om die "onwettige grondgebruik" reg te stel. Die sonering van die eiendom is Gemeenskapsone I. Volgens die munisipaliteit, sou 'n kerk en skool saam op die eiendom slegs toelaatbaar wees onder Gemeenskapsone II.
Verlede Dinsdag het die kerk se prokureur, Freddie Lombard van Lombard Kotze Prokureurs, egter in 'n e-pos waarby die munisipale ordonnansie oor sonering aangeheg is, die munisipaliteit daarop gewys dat die ordonnansie baie duidelik is oor die toelaatbare aktiwiteite onder Gemeenskapsone I, en dat kerkaktiwiteite wel gelys is as deel daarvan.
Paul Williams, senior pastoor van die gemeente, het aan die koerant gesê die gronde is vir jare deur ander kerke voor hulle gebruik. "Dit lyk asof die munisipaliteit hulle eie bywette verkeerd geïnterpreteer het."
'Ons neem bure in ag'
Oor die stoornisklagte het Williams gesê hulle doen alles moontlik om hul bure in ag te neem. "Wanneer ons 'n groot geleentheid aanbied, lig ons hulle vooraf in. Die kerk hou Sondae 'n oggenddiens en kleiner groepe kom op drie weeksaande bymekaar wat gewoonlik nooit na 22:00 eindig nie. Ons het by die munisipaliteit seker gemaak dat wat ons ook al doen, binne die regulasies is, en ons is die versekering gegee dat ons aktiwiteite aanvaarbaar is. Baie van die lidmate kom op hul motorfietse kerk toe, maar hulle is gevra om die bure te respekteer en nie geraas te maak nie."
Volgens die hoof van die nuwe skool, Warren du Plessis, is daar twee pouses wanneer die kinders buite speel, maar verder is hulle in hul klasse besig. Daar is in die middag ook kinders by die nasorg, maar dan speel hulle nie die heeltyd buite nie. Daar word huiswerk gedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'