GEORGE NUUS - Baie van die ongelukkige voorvalle wat in die see en in water plaasvind, kan voorkom word as mense die nodige waterkennis het en dit toepas. Só waarsku Caville Abrahams, die nuwe waterveiligheidsinstrukteur van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in die George-omgewing.
Abrahams (28) se waarskuwing kom juis in 'n tyd waar baie mense gereed maak om op strande langs die kus te ontspan. Hy voel baie sterk oor waterveiligheid en is reeds hard aan die werk in sy nuwe pos.
Hy kom oorspronklik van Riversdal. Na skool was hy in 'n ambag betrokke en het ook vir 13 jaar as 'n lewensredder in die Hessequa-gebied gewerk. In die tyd het hy letterlik 'n paar mense se lewens gered. Hy het aansoek gedoen vir sy huidige pos nadat dit vakant geraak het. Abrahams het 'n passie vir waterveiligheid en hy steun die NSRI se benadering om mense meer te leer van die see en water. So kan ernstige voorvalle voorkom word.
Sy ondervinding is dat mense die see onderskat en hulle het ook nie altyd die nodige kennis nie.
Hy benadruk dat dit nie net oor die see gaan nie, maar ook oor damme, riviere en swembaddens.
Caville Abrahams, die nuwe waterveiligheisinstrukteur van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in die George-omgewing by leerlinge van St. Mary's waar hy onlangs 'n praatjie gelewer het.
Sy advies aan mense is:
- Om te alle tye oplettend te wees en wetstoepassers te gehoorsaam as hulle dit in die water waag.
- Om nooit in die water te gaan as jy alkohol gebruik het nie.
- Om altyd te swem waar daar lewensredders is.
- Ouertoesig is van kardinale belang, kinders mag nooit sonder toesig naby water wees nie. Moet nooit uit die oog verloor dat kinders in so min as 4 cm water kan verdrink nie.
Abrahams glo mense moet meer bewus wees van waterveiligheid in die George-gebied en veral let op seestrome by strande. Op die oomblik is Abrahams betrokke as 'n vrywilliger by die NSRI se stasie 23 (Wilderness).
Hy lewer graag inligtingspraatjies oor waterveiligheid by onder meer sakeondernemings, skole, sportklubs en nasorgsentrums. Alle werksessies is gratis. Hy kan gekontak word by 071 871 9664 of per e-pos by caville@searescue.org.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'