Video
GEORGE NEWS - Keep George Clean (KGC) bly bedrywig met hulle skoonmaakaksies en beplan om komende Saterdag, 25 Mei, rommel op te tel in die padreserwe van die kruising van Yorkstraat / R102, verby die lughawe en tot by die Outeniqua-navorsingsplaas.
KGC se doel is om Georgiete te motiveer om hul hele dorp te laat sprankel deur netheid in hul eie omgewing te bevorder.
Georgiete wat bereid is om die moue op te rol om met komende naweek se skoonmaakpoging te help, word vriendelik versoek om teen 08:30 by die verkeersirkel bymekaar te kom. Charl Marais, stigter van KGC, sê hy was die naweek geskok om te sien hoeveel plastiek langs die R102 lê.
Tydens hulle vorige skoonmaakaksie vroeër vandeesmaand het personeel van Precast Panel Products en 'n groep flukse leerders hand bygesit om Industrialstraat vanaf Missionstraat in die industriële gebied op te ruim.
Marais het Frontierco, Tekkie Town, Tradelink Textiles en WJ Civils in Industrialstraat uitgesonder en 'n pluimpie gegee vir hulle netjiese sypaadjies.
Deel van KGC se strategie om besighede te motiveer om aan die inisiatief deel te neem, is deur bordjies met die KGC-logo by elke besigheid op te sit wat aan sekere standaarde voldoen om 'n KGC-ambassadeur te wees.
KGC wil die hele George uitdaag om deel te word van die inisiatief. "Dis eenvoudig - hou jou eie omgewing vry van rommel en netjies. Ons waardeer ook hulp met ons skoonmaakaksies soos komende naweek," sê Marais.
Besighede wat wil deel raak van die inisiatief, kan Charl Marais kontak by 083 630 3377. Besoek hulle Facebook-blad vir meer inligting.
VERSKAFDE VIDEO:
Voor: 'n Hoop grond en vullis wat argeloos gestort is.
Na: Waar daar 'n wil is ...
Jacques van Vuuren (regs), een van die eienaars van Steel & Pipes, ontvang 'n bordjie as een van die ambassadeurs van Keep George Clean.
Buco George is ook 'n KGC-ambassadeur. Robert Wright (links), ontvang die KGC-bordjie van Charl Marais.
Drie vennote van PPP, een van Keep George Clean se stigtersmaatskappye, van links: Gerhard Gouws, Charl Marais en Gerrit van Zyl.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’