GEORGE NUUS - n Denneoord-inwoner Madelaine Swanepoel, is oortuig dat dit 'n windbuksskoot was wat sy Vrydagaand 7 Julie gehoor het terwyl sy in die huis besig was om televisie te kyk.
Net daarna, omstreeks 23:00, het haar wyfiekat, Chloë, verwilderd by die huis ingestorm. "Ek het televisie in die voorkamer gekyk toe Chloë wild ingehardloop kom, reguit kamer toe," sê Swanepoel. Sy het uitgegaan om ondersoek in te stel, maar kon niks buitengewoon gewaar nie. Chloë het geen beserings opgedoen nie.
Swanepoel se skoondogter, Annerika Labuschagne, het bevestig dat die voorval in die omgewing van Wellingtonstraat plaasgevind het. Swanepoel sê dit is nie die eerste keer dat haar katte onder windbuksskote deurloop nie. Haar ander kat, Mowie, is voorheen met 'n windbuks in die nek geskiet. Swanepoel het self die koeël met 'n tang uitgetrek. Mowie het daarna spoorloos verdwyn.
Soortgelyke voorvalle is voorheen in Denneoord aangemeld. Die Lesch-familie se wyfiekat, Rozy is op die hoek van Porter- en Hugenotestraat met 'n windbuks in die maag geskiet. Nog 'n kat, Fluffy, se een been moes geamputeer word nadat hy in Junie verlede jaar op 'n kort afstand met 'n windbuks geskiet is.
Die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging se bestuurder, Frieda Jansen van Rensburg, sê dit is 'n oortreding as iemand 'n windbuks in 'n bewoonde gebied afvuur met die doel om diere te beseer.
'n Windbukskoeël het Mowie in die nek getref.
So 'n persoon sal vervolg word ingevolge die Dierebeskermingswet. Indien die persoon skuldig bevind word, kan hy/sy 'n boete of gevangenisstraf kry en verantwoordelik gehou word vir die veeartsrekening van sodanige dier.
Volgens Jansen van Rensburg kan eienaars maatreëls in plek stel om hul diere te beskerm, soos om katte te steriliseer sodat hulle nie rondloop nie. "Wees ook bewus waarom honde in jou omgewing blaf."
Inwoners wat weet van oortredings teen diere word aangemoedig om dit aan te meld, en kan die DBV bel by 044 878 1990.
ARTIKEL: BRUMILDA SWARTBOOI
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'