Gallery
GEORGE NUUS - Vroue en enkele manne van Kansa Sonneblomme het op Dinsdag 10 September hul 20ste bestaansjaar gevier met 'n geselligheid by die Clay Café in Blanco.
Die Sonneblomme is mense met omgeeharte wat 'n waardevolle ondersteuningsdiens aan kankerpasiënte by die George-hospitaal lewer.
Oudsonneblomme en huidige personeel van Kansa en George-hospitaal het ook die oggend saam geniet.
Rita Marx, stigter van die projek in vroeg 2004, het gesê die behoeftes van pasiënte wat vanuit die Suid-Kaap en Karoo kom vir behandeling en 'n groot deel van hul dag op reis en by die hospitaal deurbring, is steeds die motivering vir die diens.
Die bediening wat koffie, tee, toebroodjies, ondersteuning, en waar van toepassing, verwysing na Kansa insluit, is van absolute noodsaaklikheid.
Josephine Murray, huidige koördineerder, het alle Sonneblomme geëer vir hul bydrae deur die jare. Bedankings het gegaan aan ds. Francois Mulder wat die verrigtinge geopen het met die lied, Love is all we have left, en 'n dank- en seëngebed.
Verder is Penny de Villiers en Cynthia Levin bedank vir hul vermaak met sang en musiek uit bekende musiekspele. Hilda van Santa Bonne Proteaplaas, Groot-Brakrivier, is bedank vir die gesig van geel-oranje speldekussings.
Paula Kleynhans neem deel aan die kersseremonie. 'n Geleentheid is geskep vir Sonneblomme wat self kanker-ervarings beleef het, 'n kers aansteek om hoop te simboliseer.
Adri Odendaal van Kansa het gesorg vir 'n skenking van goudgeel kolwyntjies (cupcakes) en Blitsdruk se Nicole Rossel en Angelique du Plessis is bedank vir die pragtige boekmerke versier met sonneblomme wat as geskenke beskikbaar was vir almal teenwoordig.
Woolworths Garden Route Mall se skenking het gehelp om aan die besoekende deelnemers 'n dankie-geskenk te bied. Skenkings van kunswerke deur onder meer Rene Scribante en Tony Noble en 'n gehekelde kombers van Pat Brits word gebruik om fondse in te samel ten einde die Sonneblomme se kruidenierswarekas vol voorraad te hou.
'n Beroep is gedoen vir skenkings van oorskietwol vir Pat Brits (083 292 9251) wat organiseer dat nodige artikels gebrei en gehekel om aan pasiënte in die wintermaande te voorsien.
Belangstellendes in die projek kan skakel met Josephine Murray by 076 703 8008.
Dit was 'n spesiale oggend met spesiale mense aanwesig. "Vir die feit dat hierdie projek reeds 20 jaar suksesvol bedryf word, gee ek alle eer aan die Hemelse Vader," het Rita Marx gesê.
Rita Marx, stigter van Kansa Sonneblomme, met Josephine Murray, huidige koördineerder van die projek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’