GEORGE NUUS - Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het op Saterdag 26 Julie 'n spesiale oggendprogram aangebied om hulle vrywilligers van George en omliggende dorpe te bedank vir hul onbaatsugtige diens in die ondersteuning van kankerpasiënte en hul families.
Anina Meiring, die bestuurder van Kansa TLC (Tough Living with Cancer), het in haar toespraak gesê die vrywilligers is soos familie vir Kansa.
Hulle lewer 'n onontbeerlike diens deur ondersteuning van kankerpasiënte en hul families. Van hulle doen dit al vir twee tot drie dekades.
"Elkeen hier vandag dra iets besonders in hulle van omgee en hoop. Hulle teenwoordigheid in ander se pyn en hartseer is werklik liefde in aksie."
Hierna het Lynette Rautenbach van Wellness and Toning Zone bietjie meer vertel oor hoe hulle mense help om te oefen en sterker te raak, en Mike Steenekamp, 'n plaaslike dieetkundige, het gesels oor dieet en diabetes.
Met die toename in kankergevalle in Suid-Afrika is die aanvraag na Kansa se dienste veel groter as wat die personeel alleen kan hanteer.
Meiring het gesê vrywilligers is die ruggraat en lewensbloed van die organisasie. "Hulle verrig werk van onskatbare waarde en help ons om dienste in plaaslike gemeenskappe uit te brei."
FOTOGALERY: Kansa-vrywilligers kuier saam in George
Die twee sprekers, Lynette Rautenbach (middel) van Wellness and Toning Zone en dieetkundige Mike Steenekamp (naasregs), saam met Kansa-personeel, van links: Zantel Swanevelder, Annemie Coetsee (maatskaplike werker) en suster Sharon Venter.