GEORGE NUUS - Die bekende bestuurder van Kafe Serefé, Erika Arries, is skielik op Donderdag 23 Mei in die ouderdom van 47 jaar oorlede.
Haar gedenkdiens is op Saterdag 1 Junie in gietende reën in 'n stampvol AGS Kerk in Parkdene gehou waar familie, kollegas en vriende met leedwese afskeid geneem en haar lewe gevier het.
Die talle besielende huldeblyke wat gebring is, het 'n prentjie geskets van 'n vrou wat diep spore in haar gemeenskap getrap het.
"Haar heengaan was 'n groot skok vir almal wat haar geken het," sê Carolien van Rensburg, Kafe Serefé se eienaar.
Erika het 'n loopbaan van 26 jaar by die Van Rensburgs in Februarie 1998 begin as 'n skoonmaker by die slaghuis. In 2004 is sy na Kafe Serefé oorgeskuif waar sy uiteindelik bestuurder geword het.
"Ons by Van Rensburgs Vleis en Kafe Serefé is almal diep geskok. Erika was 'n ware rolmodel wat van onder af begin en haar opgewerk het om die hoogste sport te bereik.
"Haar lojale personeel gaan haar baie mis. Erika was vir hulle 'n ikoon en ware leier aan wie hulle onberispelik getrou was."
Erika se heengaan was eweneens 'n skok vir haar kliënte.
"Haar innemende geaardheid en omgee het van haar hulle liefling gemaak. Vir my en Helge Douglas is dit ook byna 'n onwerklikheid. Ek het Kafe Serefé begin met Erika van die begin af aan my sy. Helge het later met haar saamgewerk en vir etlike jare bygestaan.
"Erika was 'n mens met goeie waardes en het die vermoë gehad om almal waardig te laat voel. Sy het waarde toegevoeg tot haar kliënte se ervaring in die restaurant. Sy was voorwaar 'n gewaardeerde persoon."
Wyle Erika Arries
Haar kollegas sê Erika het hulle geleer om altyd te streef om hulle beste te doen en te wees. Sy was enig haar soort en was geliefd om haar warm persoonlikheid.
Haar buurvrou, Yolanda Baartman, sê Erika is in George gebore as die oudste van drie kinders.
"Toe haar ouers oorlede is, was sy die alleenbroodwinner. Sy het ná skool as 'n skoonmaker by Van Rensburgs begin werk en uiteindelik bestuurder van Kafe Serefé. Ek en sy was groot vriende en ek gaan haar vreeslik mis."
Erika laat haar dogter, Chamelle (14) asook haar broer, William Solomons en suster, Marlene Solomons agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’