Kadalie, 'n beskermvrou van die ACVV, het by 'n fonds-insamelingsontbyt by Fancourt met die tema 'Welsyn is almal se besigheid' net lof vir die welsynsorganisasie gehad.
Die ACVV is vanjaar 110 jaar oud en die oudste welsynsorganisasie in die land.
Kadalie het gesê die ACVV is 'n sonderlinge organisasie wat hulle dade op Christelike waardes baseer. Sy het die ACVV vroue geprys wat vrywillig en sonder enige vergoeding van hulle self gee om ander in nood te help.
"Die ACVV help mense wat byna niks vir hulle self kan doen nie. Dit is egter onregverdig om van die ACVV te verwag om die regering se werk te doen. Die Suid-Afrikaanse regering is onverantwoordelik in die wyse waarop hy sy kiesers hanteer. In die ou dae as die Nasionale Party 'n miljoen gesteel het het mense mal gegaan - vandag praat ons van biljoene!
"Ons eis dat ons belastinggeld na die ACVV en soortgelyke organisasies gaan. Kom ons maak die ACVV en kie verantwoordelik vir vroeë kind ontwikkeling op die manier waarop McDonald's franchises toeken."
Kadalie het die belang van welsyn beklemtoon, maar ook die gevaar van 'n welsynstaat uitgewys deur aan te haal. "'n Sosialis is iemand wat niks het nie, maar bereid is om dit met almal te deel."
Volgens Kadalie het die ACVV ongelooflik goed aangepas by die nuwe Suid-Afrika. "As organisasie was julle nog altyd julle tyd vêr vooruit. Julle is sterk Afrikanervroue wat sedert 1904 vir julle reg tot waardigheid baklei. Die ACVV het welsyn sy besigheid gemaak. 'n Besigheid gebaseer op die saak van diegene wat gemarginaliseer is.
Rina de Swardt, vir 17 jaar reeds die voorsitter van ACVV George, het vertel dat die duiwel 'n bejaarde sendeling probeer ompraat het om op te hou werk deur te sê hy verdien om op sy oudag te rus.
Die sendeling antwoord toe: "Ag, nee wat duiwel, kyk hoe oud is jy en jy werk dan nog so hard."
Sy het benadruk dat die ACVV nie die duiwel se werk doen nie, maar dat hulle nietemin duiwels hard werk!
ACVV George vier vanjaar hulle 97ste verjaarsdag. Saam met die plaaslike voorsitter, Rina de Swardt (heel regs) is van links ACVV hoof uitvoerende beampte, Shanie Boshoff, nasionale voorsitter, Ria Abel, en gasspreker Rhoda Kadalie.
Foto's: Ilse Schoonraad
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'