TUINROETE NUUS - Die Suid-Kaap-tak van die Genealogievereniging van Suid-Afrika (GVSA) nooi die publiek na hulle volgende maandvergadering op Woensdag 19 Maart om 10:00 in die George-museum.
Dr. Okkie Stander sal gesels oor 'n interessante geskiedkundige gebeurtenis van die omgewing.
Die voorsitter, Henry Hill, nooi die publiek om die byeenkomste gratis by te woon.
"Ons hoop dat belangstellendes ook by die GVSA sal aansluit. Die voordeel van lidmaatskap is dat die individuele lid onbeperkte toegang het tot uiters kundige persone landwyd wat nie net advies kan aanbied nie, maar ook toegang verleen tot 'n menigte hulpbronne," sê Hill.
Die tak vergader elke derde Woensdag van die maand wanneer daar óf 'n ledevergadering gehou word óf 'n interessante aanbieding deur 'n kundige persoon gedoen word, hetsy ten opsigte van 'n familie of die geskiedenis van plekname of geskiedkundige gebeure.
Die GVSA is 'n nie-winsgewende vereniging met die uitsluitlike doel om kontak te maak met individue en groepe wat geïnteresseerd is in genealogiese navorsing en om die wetenskap van genealogiese navorsing te bevorder en te bewaar.
Hulle bevorder en fasiliteer belangstelling en navorsing in genealogie en familiegeskiedenis.
Die GVSA bestaan reeds sedert 1964 en het verskeie takke deur die land.
Die Suid-Kaap-tak strek ongeveer van Plettenbergbaai in die ooste tot by Riversdal in die weste en dan noord tot by Calitzdorp / Ladismith.
Die vereniging funksioneer nie as 'n federasie nie, maar 'n enkel regsentiteit waar elke individuele opbetaalde lid 'n inspraak kan lewer.
Navrae kan per WhatsApp-boodskap gerig word aan Henry Hill by 082 906 7331.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’