GEORGE NUUS - Met 'n sagte glimlag en dalk 'n tikkie emosie het die laaste skoolklok aan die einde van verlede kwartaal vir juffrou Patty Meyer gelui en daarmee saam het 'n besondere hoofstuk by Hoërskool George vir haar tot 'n einde gekom.
Ná 34 jaar in die onderwys, waarvan meer as drie dekades aan Hoërskool George gewy is, stap sy weg met veel meer as net 'n Rekeningkunde-onderwyser.
Sy was 'n mentor, 'n afrigter, 'n administrateur, maar bowenal iemand wat generasies leerders geleer het van iets wat nie in handboeke staan nie, common sense.
Haar reis het reeds in 1992 by Hoërskool Pacaltsdorp begin, waar sy onder Royce Hufkie skoolgehou het. Maar dit was nie lank nie of Doc Lottering, destyds hoof van Hoërskool George, het haar, soos sy self tong-in-die-kies vertel, "weggerokkel". Daar het sy gebly tot haar laaste dag op 27 Maart.
Juffrou Patty Meyer gaan in die gange en klaskamers van Hoërskool George gemis word.
Daardie oggend het sy met gemengde gevoelens vir die laaste keer die skoolklok gelui en by die hekke uitgestap. "Ek was opgewonde, maar ook bang vir dit wat wag, die onbekende," vertel sy.
Vir Juffrou Patty, 'n oudleerder van Hoërskool Pacaltsdorp, was onderwys nog altyd meer as vakke en uitslae.
"Dit gaan ook oor die verskil wat jy in kinders se lewens maak. Jy sien die kinders, hulle lyk netjies aangetrek, hulle is elke dag in die skool, maar tog sien jy iets in hulle oë, 'n verlange na iets," sê sy.
"Soms moet jy vir hulle 'n moeder wees, 'n maatskaplike werker, wat ook al hulle nodig het. Baie het net daardie ekstra bietjie omgee, aandag en hulp nodig om hulle deur te trek."
Aan jong onderwysers het sy 'n duidelike boodskap, dissipline is ononderhandelbaar. "Moenie probeer 'in' wees met die leerders nie, dit is een van die grootste foute wat jy kan maak. Kinders, veral met vandag se groot klasse waar almal verskillende persoonlikhede het, verlang na struktuur. Daar moet outoriteit wees, jy kan nie tjommie-tjommie wees nie."
Juffrou Patty het ook haar merk op die netbalbaan as speler en afrigter gemaak. Sy was 40 jaar oud toe speel sy steeds. Onder haar leiding het twee o. 19 SA netbalspelers hul vlerke gekry, iets waarop sy met reg trots kan wees.
Boodskappe van oudleerders en kollegas was volop met elkeen wat hul eie storie vertel van hoe sy hul lewens aangeraak het.
Vir die skool is dit nie net 'n totsiens nie, maar 'n opregte dankie aan hul eie First Lady, 'n vrou wie se nalatenskap nog lank in die gange en harte van die skool sal voortleef.

Oor wat die toekoms vir haar inhou, sê Juffrou Patty sy gaan eers rus en dan die land verken. "Ek het vir 30 jaar vir gr. 12's klas gegee en baie keer tot laataand gewerk, so ek wil eers bietjie rus en dan my land verken. Ek wil my seun in Malmesbury besoek en die ander een, my man Randal se seun, in Johannesburg. Na dit sal ek besluit wat ek volgende gaan doen."
Wat die toekoms ook al inhou Juffrou Patty, geniet dit! - Red
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’