GEORGE NUUS - Die ma van die jongman wat Saterdag 22 Augustus in Loeriepark in hegtenis geneem is nadat hy en 'n groep vriende met hul veldmotorfietse in dié woonbuurt rondgery het, meen die voorval kon voorkom gewees het indien die seuns 'n wettige plek gehad het om hul sport te beoefen.
Hoewel sy nie goedpraat wat haar seun (19) gedoen het, insluitend sy poging om van 'n verkeersbeampte weg te jaag nie, sê sy sy verstaan waarom die kinders in die dorp en woonbuurte ry.
Volgens haar het hulle eenvoudig geen ander plek om dié sport te beoefen nie.
"En dit is hulle sport. Hoekom moet ander sportsoorte voorkeur kry? Die kinders het hulself reeds telkemale tot die verkeersdepartement en die munisipaliteit gewend in 'n poging om grond te kry waar hulle wettig met hul motorfietse kan ry, maar niemand wil hulle help nie.
"Is daar regtig geen manier om hulle te help nie? Daar word een ontwikkeling op die volgende gebou. Kan 'n klein stukkie grond nie maar afgestaan word vir die kinders en hul motorfietse nie?"
Die man se inhegtenisname volg op 'n jaagtog deur die strate van Loeriepark, waartydens 'n verkeersbeampte hom agternagesit het.
Hy is uiteindelik in hegtenis geneem nadat sy motorfiets gegly het toe hy probeer het om die beampte te ontduik deur na die Tuinroetedam te ry.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie, het die polisie 'n dossier van roekelose en nalatige bestuur oopgemaak ná 'n hoëspoedjaagtog waartydens talle verkeersreëls verontagsaam is.
Pojie sê 'n verkeersbeampte het die groep naby die dam opgemerk waar hulle na bewering roekeloos gery het. Met die verkeersbeampte se aankoms het hulle uitmekaargespat.
Die beampte het die jongman agternagesit en uiteindelik ingehaal en in Standerstraat in hegtenis geneem.
Hy is aangekla en later op 'n waarskuwing vrygelaat om op Woensdag 26 Augustus in die George-landdroshof te verskyn. Teen druktyd was daar nog nie nuwe inligting rondom sy verskyning nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’