Update
GEORGE NUUS - Die geregtelike doodsondersoek wat verlede week deur die Pacaltsdorp-polisie geopen is ná 'n liggaam in 'n oop veld gevind is, is na dié van moord verander.
Zaynick Squire (18) se liggaam is verlede Vrydag, 3 Maart, omstreeks 10:15 deur 'n verbyganger in 'n oop veld naby Crescentlaan in Pacaltsdorp gevind.
Volgens haar ma, Marissa Squire van Rosestraat, het sy haar dogter die laaste keer lewend gesien toe hulle die vorige Sondag van die kerk af teruggekom het.
"Sy was saam met 'n vriend by ons huis. Mense het haar Maandagaand gesien en dit was die laaste," vertel Squire.
Volgens onbevestigde inligting was haar liggaam reeds besig om te ontbind toe sy gevind is.
Ná verdere ondersoek is die aanvanklike geregtelike doodsondersoek na 'n klag van moord verander.
Die polisie kon nog nie bevestig watter wapen gebruik is om Squire mee te vermoor nie.
Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, sers. Chris Spies, het dit bevestig en gesê nie dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help met hul ondersoek kan die ondersoekbeampte, ao. Cindy Horne by 044 803 9106 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'