GEORGE NUUS - ‘n 11-jarige seun van Moeggeploeg in Pacaltsdorp, Anslihano Jansen, het Dinsdagmiddag, 11 Februarie in 'n dam, bekend as die Tweelingdam, agter Harmony Park verdrink terwyl hy en vriende gaan swem het.
Volgens Anslihano se ma, Eloise, het hy na skool saam met vriende by die dam gaan swem, maar sy is nie heeltemal seker wat tot sy dood gelei het nie.
“Toe hy van die skool af kom het hy eers hom en sy sussie se skoolkouse gewas. Hy het my altyd so mooi om die huis gehelp. Daarna het hy gaan swem,” vertel sy.
Omstreeks 16:00 het Eloise begin bekommerd raak en sy vriende wat saam met hom gaan swem het, gevra of hulle hom gesien het. “Hulle het eers gesê nee hulle weet nie waar hy is nie, maar toe ek hulle weer vra, toe sê hulle hy is nog by die dam,” sê sy.
Dit blyk Anslihano, 'n leerder by New Dawnpark Primêr, se vriende was in skok na die verdrinking en het huis toe gehardloop sonder om te weet wat om te doen of sê.
Dit is in hierdie stadium nog onduidelik presies wat gebeur het, maar Anslihano se liggaam is later daardie middag in die dam gevind.
Na die voorval het die Pacaltsdorp-polisie 'n geregtelike ondersoek geregistreer vir verdere ondersoek.
‘n Woordvoerder vir die polisie, Anelisiwe Manyana, sê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en ‘n lykskouing sal uitgevoer word om die oorsaak van die dood te bepaal.
Meer inligting volg soos dit bekend word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’