Gallery
GEORGE NUUS - 'n Oud-Kwagga, wat vinnig besig is om in die modebedryf naam te maak, is die wenner van die Allfasion Sourcing Young Designer-kompetisie wat op 30 September in Kaapstad aangebied is.
Carla Hanekom (21) het met hierdie groot prestasie 'n reis na Parys gewen om volgende jaar aan 'n internasionale modeuitstalling by Texworld, in Frankryk deel te neem.
Al haar onkoste word gedek om haar eie handelsmerk, Metro 7, by hierdie bekende handelskou vir die klere- en tekstielbedryf bekend te stel.
Carla kry boonop 'n R15 000 kontantprys, asook 'n verdere bemarkingsgeleentheid deur die modekenner, Cyril Naicker, se splinternuwe inisiatief genaamd die, Sustainability Accelerator Program.
Die Allfasion Sourcing Young Designer-kompetisie is vanjaar vir die vyfde keer aangebied en is die ideale geleentheid vir jong opkomende modeontwerpers om hul vaardighede aan die industrie ten toon te stel.
Vanjaar se fokus is op ontwerp vir 'n volhoubare toekoms, met 'n veranderende verbruikersingesteldheid.
FOTOGALERY: Oud-Kwagga wenner van die Allfasion Sourcing Young Designer-kompetisie
Carla het einde verlede jaar haar driejaar-graadkursus in modeontwerp by Elizabeth Galloway Academy of Fashion in Stellenbosch voltooi. Sy is tans besig met 'n gevorderde diploma in innoverende, onderhoudbare ontwerp en kunshandwerk. Sy het ook op uitnodiging van die akademie 'n internskap ontvang, wat behels dat sy voltyds as 'n produksiebestuurder en sosiale media beampte vir die akademie werk.
"Ek het nogal my hande vol, omdat ek voltyds werk en halfdag studeer. Vir hierdie kompetisie moes ek twee maande lank na-uurs tyd inruim, laatnag patrone knip en stik," het Carla gesê.
"Dit was 'n ongelooflike gevoel toe ek hierdie kompetisie wen, want dit onderskraag dit waarin ek glo en doen. Ek weet volhoubaarheid is die rigting waarin ek wil gaan met my handelsmerk Metro 7. Dit is iets wat ek vir Suid-Afrika wil doen."
Haar styl
Carla is gek oor die uitdaging om klere te maak wat op meer as een manier gedra kan word. Haar modestukke kan deur beide mans en vroue gedra word en word so ontwerp dat 'n broekspyp byvoorbeeld kan afrits en as 'n mou gebruik kan word.
"Die mates word so uitgewerk dat dele van 'n kledingstuk rondgeskuif kan word. Baadjies is ook heeltemal omkeerbaar. Klere kan in die winter of somer gedra word, deur dit met verskillende klere te meng en dit is nie vir 'n spesifieke geslag gemaak nie.
"Dit is 'n hoogs tegnologiese styl en daarom vind ek dit so belangrik om dit aan te bied met tekstuur wat 'n menslike gevoel het, soos byvoorbeeld 'n gehekelde item. Hekelwerk is een van my gunsteling ontwerpselemente. Met alles wat super digitaal gedrewe is, gee 'n kunshandwerk so 'n menslikheid aan uitrustings. Ek het op YouTube leer hekel by my ouerhuis in Denneoord."
Carla se inspirasie het baie minder te doen met estetika as met doel. "Die styl-element ontstaan vanuit die doel van die kledingstuk. Van die materiaal het ek lankal reeds gehad, of by tweedehandse klerewinkels gevind. Selfs die toppie wat ek gehekel het, is een wat ek reeds gehad het, uitmekaar getorring het, en weer oor gehekel het op 'n ander manier."
Voluit, passievol
"Carla het elke geleentheid in die lewe gegryp om haar passie uit te leef. Sy het baie hard gewerk om te kom waar sy op die oomblik is. Sy het 'n beurs gekry om te gaan studeer, wat haar in staat gestel het om by Elizabeth Galloway te studeer - iets wat ons as ouers nie sou kon bybring nie," het Rika Hanekom, Carla se ma, gesê.
"Weens haar werksetiek en God gegewe talent het hulle haar gevra om terug te kom vir 'n internskap. Ons as haar ouers kan absoluut sien hoe God se hand in haar lewe is. Dit is baie deurnagwerk om hierdie ontwerpe te doen. Ons hoop haar storie dien as 'n inspirasie vir ander jongmense. Gaan en doen wat God in jou geplaas het, gebruik dit wat in jou hand is en gee dit jou alles."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'