GEORGE NUUS - Die lewe van 'n gewilde en belowende jong man, Aulin Powell (21), is Woensdagaand, 5 Januarie, kortgeknip toe hy in Knysnaweg gesterf het. Powell was op sy motorfiets van sy werk in Wilderness na sy ouerhuis in Le Vallia onderweg, toe hy deur 'n Toyota Hilux-bakkie by die verkeerslig na Le Vallia getref is.
Volgens onbevestigde inligting wou die bestuurder van die bakkie, wat uit die rigting van die middedorp gery het, na Le Vallia afdraai toe hy Powell tref. Hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Sy familie beskryf hom as 'n talentvolle en kreatiewe jong man. "Sy grootse passie was defnitief sy musiek," vertel sy suster, Marochel Cronjé.
"Hy het self sy lirieke geskryf en gesing. Ons het hom altyd uit sy kamer hoor sing. Hy was die cool dude wat baie lief was vir drukkies van sy ouers en susters en cuddles met die honde. Ons is so trots op die man wat hy geword het en so bly hy het sy lewe gelewe soos wat hy dit verkies het.
"Ons gaan hom baie mis," sê sy.
Sy vriende vertel hoe Aulin altyd die hardste gelag het en die meeste omgegee het vir die mense om hom. Hulle beskryf hom as 'n man met 'n groot hart en die mooiste persoonlikheid.
Suid-Kaapse polisiewoordoerder, sers. Chris Spies, sê Conville-polisielede is omstreeks 23:25 na die toneel ontbied.
"'n Saak van strafbare manslag is geopen ná die bakkie die motorfiets getref het. Die motorfietsryer het aan ernstige beserings beswyk. Geen verdere inligting rondom die voorval is in hierdie stadium beskikbaar nie. Die ondersoek duur voort," het Spies vandeesweek gesê.
Begrafnisreëlings
Slegs 100 mense word by die begrafnis op Saterdag 15 Januarie toegelaat.
Die diens word vanaf 10:00 direk op Facebook uitgesaai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'