TUINROETE NUUS - 'n Groep leerders met 'n besondere liefde vir die natuur kon dit eerstehands beleef met 'n opleidingsessie deur die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB). Altesaam 18 leerders (12 seuns en 6 dogters) het die geleentheid benut.
Die kursus se doel was om die historiese jagkultuur aan die jeug oor te dra asook ‘n geleentheid om die begrip “volhoubare benutting” prakties te kon uitleef.
Hulle kon reeds as laerskoolleerders die veldskool oor ‘n periode van drie dae asook die skietkliniek oor ‘n periode van een dag onder bekwame opleidingsbeamptes deurloop.
Hierdie laaste gedeelte van die opleidingskursus bied geleentheid aan elke student om onder mentorskap sy eie springbok te skiet, reg te ontwei, af te slag, uitmekaar te maak en die bewerking van vleis te ervaar.
Kursus
Kursusmateriaal omsluit die aanvanklike beplanning van die jagtog tot by die bewerkte vleis. Alles word prakties en in die veld aangebied, terwyl kampvuurstories en leierskapsontwikkeling om ‘n gesellige vuur, deel van die opleiding uitmaak.
Hierdie jaar is die kursus vir die eerste keer op die plaas, Wolwekop in die Noord-Kaap aangebied.
Daar is vir agt dae in die veld in tente gekamp, uit ‘n veldkombuis gelewe, brode in ‘n grondoond gebak en studente was aktief betrokke by kosmaak en opruim.
Die agtien springbokke wat deur die studente geskiet is, is afgeslag en verwerk tot heerlike boerewors.
Die veilige en oordeelkundige hantering van ‘n vuurwapen vorm ‘n integrale deel van die opleiding. Elke student moes eers kwalifiseer sodat skietvernuf op hoë standaard was voordat hulle toegelaat is tot die jagveld. Met die suksesvolle voltooiing van die kursus kan skoliere geregistreer word as toegewyde jagter.
Studente en die opleidingsspan netjies geklee in hulle nuwe geborgde SJB-hemde.
Instansies
Hiermee word Suid- Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se opregte dank uitgespreek aan die vele instansies en privaat donateurs wat op ‘n gereelde basis bydraes maak om ons jeug beter toe te rus om beredeneerde en sinvolle besluite te kan neem.
Die blootstelling ontwikkel nie net besluitneming wat ons natuurlike hulpbronne raak nie, maar ook leierseienskappe wat toekomstige leiers skep.
Studente tydens een van hulle lesings in die veld.
Kontak
Vir inligting rakende junior opleiding kan die SJB kantoor te Diaz Strand gekontak word by 044 695 2319 of stuur ‘n e-pos aan info@suidkaapjagters.co.za of kontak Fermi Meyer (die SJB-bestuurder verantwoordelik junior opleiding) by 072 444 8236.
Die meisies se skietvernuf word opgeskerp.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’