GEORGE NUUS - 'n Graad-11 leerder van Hoërskool Outeniqua, Jaco Jacobs (17), gaan Suid-Afrika by die 2022 Global Youth Science and Technology Bowl (GYSTB) wetenskapuitstalling in Hong Kong virtueel verteenwoordig met sy ingenieursontwerp - 'n drukreguleerder vir fietsbande.
Hierdie geleentheid vind eerskomende naweek, van 10 tot 12 Junie plaas. Jaco is een van twee tieners in die land wat deur Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes gekies is om dit by te woon.
Die ander seun is Nicolaas Moolman (18) van Hoërskool Volksrust in Mpumalanga.
Jaco het 'n stelsel ontwerp wat gebruik kan word om die druk in fietsbande outomaties te reguleer; terwyl Nicolaas se navorsing ondersoek of indringerplante gebruik kan word om die mikrobiese bederf van vars voedselprodukte te voorkom.
Jong wetenskaplikes van oor die wêreld kompeteer en die prysuitdeling word Sondag 12 Junie om 14:15 uitgesaai op Facebook Live: GYSTB 2022 Awards and Closing Ceremony.
Jaco se onderhoud met die beoordelaars word Saterdagoggend 11 Junie om 09:45 tot 10:00 op Facebook Live uitgesaai. Volg die skakel.
- Lees meer in Donderdag se George Herald, as ook aanlyn.
Jaco Jacobs (17) tydens sy deelname aan die School Cycling Series by Oakhill in Knysna. Foto: Lize-Mari Jacobs
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'