TUINROETE NUUS - Die families van die jong egpaar wat Sondagaand, 15 Maart, in 'n botsing reg van voor op die N2 gesterf het, is in diep rou gedompel.
Jurich Roberts (33) van Heidelberg en sy vrou, Glenecia (néé Tobias - 30) van George, se voertuig het omstreeks 22:00 by die afdraai na Karringmelksrivier sowat 20 km buite Heidelberg in 'n noodlottige ongeluk omgekom.
Sicelo Mbekela (44), die ander bestuurder, het ook in die ongeluk gesterf.
Die egpaar was van George op pad huis toe na Gordonsbaai. Hul 2-jarige seuntjie, Luke, is in Riversdal-hospitaal opgeneem. Hy is later na George oorgeplaas in die sorg van sy oupa en ouma.
Geen besonderhede is oor Mbekela, wat alleen in die voertuig was, bekend nie.
Volgens die polisie het Mbekela klaarblyklik beheer oor sy Toyota Tazz verloor en voor die egpaar se VW Polo in die aankomende baan beland.
Volgens die Tobias-gesin het die egpaar die naweek in George gekuier om 'n verjaarsdag en 'n inseëning te vier. Op pad terug het hulle eers op Heidelberg aangegaan om die familie te groet. "'n Mens het nooit my broer sonder 'n glimlag gesien nie..." onthou sy suster Jomene de Koker.
Jurich en Glenecia was albei oudleerders van PW Botha Kollege (nou Hoër Tegniese Skool Eden). Jurich was betrokke by die Heidelberg-rugbyklub. Ten tyde van sy dood was hy by Overberg-distriksmunisipaliteit werksaam.
Glenecia, wat as prokureur gepraktiseer het, het die afgelope ses maande uit haar huis gekonsulteer.
Jurich word oorleef deur beide ouers, twee susters en 'n broer. Glenecia word oorleef deur haar ouers, 'n broer en suster.
Die begrafnis sal 28 Maart in George plaasvind.
'n Gedenkdiens word vanaand om 19:00 vir die egpaar in George by Eagles Nest Ministries International gehou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'