GEORGE NUUS - 'n Ondersoek is deur die Wes-Kaapse Skole-atletiekvereniging (WKSA) gelas ná klagtes deur verskeie ouers oor die behandeling van hul kinders by verlede week se SA Skole baan- en veldatletiekkampioenskappe in Potchefstroom.
In die ellelange lys van klagtes, wat deur een van die ouers aan die WKSA gestuur is, word ondermeer beweer dat die kinders glo na hul aankoms Woensdagmiddag omstreeks 14:00 vir ure in die reën moes staan voor hulle die aand 22:00 na hul kamers geneem is.
Die kamers was glo sonder enige warm water of elektrisiteit.
Weens die sub-standaard-verblyf is die kinders na bewering die volgende aand, omstreeks 20:00, op 'n bus gesit met wegneemetes. Hulle moes glo geduldig tot 01:00 die volgende oggend wag voor hulle, sonder hul ouers se medewete, na 'n koshuis in Sasolburg geneem is.
"Om 02:22 het ons 'n boodskap van ons seun ontvang wat gesê het dat hulle iewers aangekom het om te slaap. Hierdie is ons beste atlete in die Wes-Kaap en ons stel ons vertroue in die Wes-Kaapse atletiekvereniging om tot die beste van hul vermoë na ons kinders om te sien en te verseker dat hulle hul beste op die baan gee," het een van die plaaslike ouers gesê.
'n Ouer van die Strand het aan die George Herald gesê dat haar seun eers om 04:15 by sy verblyf aangekom het en om 06:00 weer van Sasolburg af na Potchefstroom moes terugry om aan die kompetisie deel te neem.
Een van die kinders se 'etes'.
Volgens hom was daar glo vir die kinders, wat later in die dag moes deelneem, gesê dat hulle later kan slaap en voor die verskeie items opgetel sou word.
"Toe hulle wakker word en vir ontbyt vra was alles reeds opgeëet en was daar geen alternatiewe voorsiening vir hulle gemaak nie," het hy gesê.
Volgens die voorsitter van WKSA, Brandon du Plessis, wag hulle op die verslae van die toernooibestuur.
"Ons vra om verskoning vir die omstandighede van die verblyf en die feit dat ons die atlete na ander geskikte verblyf moes skuif. Ek sal eersdaags 'n volledige verslag aan ons strukture en skole deurgee," het hy aan die George Herald gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'