GEORGE NUUS - Die voorsitter van George-munisipaliteit se interne ouditkomitee het Maandag as gevolg van ernstige gewetensbesware bedank - drie weke voor hy die tuig amptelik sou neerlê.
Joe Stoffels, wat sewe jaar as voorsitter gedien het, sê met sy bedanking distansieer hy homself van die kontroversiële aanstellings van die DA-sekretaris van die George-kiesafdeling, Flip de Swardt en Roslyn Saptoe, vrou van die verkeershoof Donovan Saptoe, op die komitee.
Die nuut verkose voorsitter, Adele Potgieter, sou op 1 Mei die posisie oorneem, maar sal dalk nou vroeër die leer moet klim.
Stoffels het sy ontevredenheid op 8 Maart in 'n brief aan die munisipale bestuurder, Trevor Botha, verwoord, enkele dae voor Saptoe en De Swardt se aanstellings, ten spyte daarvan dat die interne ouditeur, Louis Fourie, by die raad aanbeveel het dat hulle nie oorweeg word nie.
"Flip de Swardt se betrokkenheid by die DA maak hom ongeskik om op die ouditkomitee te dien... daaroor is daar nie eens twyfel by my nie. Indien die raad voortgaan om hom aan te stel, sal dit die onafhanklikheid van die ouditkomitee ernstig in gedrang bring, en vorentoe baie probleme vir die munisipaliteit veroorsaak," het Stoffels geskryf.
De Swardt verwerp die aantygings dat hy ongeskik is vir ‘n pos in die interne outditkomitee. “Ek verwerp mnr Stoffels se aantygings in sake my onpartydigheid met die minagting wat dit verdien,” het hy gesê. “Dit is vir my uiters vreemd dat Mnr Stoffels as voorsitter van die oouditkomitee in die openbaar krietiek lewer op raadsbesluite. En daarmee stel hy ‘n uiters swak en onprofessionele voorbeeld en sy voortydige bedanking word deur my verwelkom.”
“‘n Mens kan nie iemand beskuldig van iets as jy self reëls oortree nie. Mnr Stoffels moet seker maak of die munisipale bestuurder saam met hom stem, al dan nie.”
Oor Roslyn Saptoe maak Stoffels ernstige aantygings, onder meer dat twee voormalige burgermeesterskomiteelede, wat onlangs uit hul poste verwyder is, verlede jaar druk op hom probeer uitoefen het om Saptoe se aanstelling as ouditkomiteelid te steun.
Stoffels is van mening dat Saptoe se aanstelling skade aan die munisipaliteit se reputasie kan veroorsaak.
Saptoe het vantevore aansoek gedoen om op die komitee te dien, maar is afgekeur weens haar man se pos as senior bestuurder by George-munisipaliteit.
Volgens die wet op munisipale finansiële bestuur mag individue verbonde aan politieke strukture of met familielede in diens van die munisipaliteit in senior posisies, nie oorweeg word vir die ouditkomitee nie.
'n Afskrif van sy brief is aan George-burgemeester, Melvin Naik, en die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gestuur. Bredell het nie teen druktyd op die brief gereageer nie.
Dit is die tweede brief wat Bredell in die verband ontvang. Die eerste brief is op 12 Maart deur ANC-raadslid Piet van der Hoven vanuit die raad aan Bredell gestuur, waarin hy die minister se ingryping versoek.
Volgens Stoffels het Botha tydens 'n vergadering te kenne gegee dat hy Stoffels se sentimente oor die aanstellings deel.
Chantel Edwards-Klose het by navraag gesê die munisipaliteit gaan geen kommentaar lewer nie.
Saptoe het by navraag geantwoord dat sy nog geensins Stoffels se bewerings onder oë gehad nie.
"Ek dink ook u is bewus dat enige kriminele oortredings gepaardgaan met die opening van sodanige kriminele sake, indien mense blykbaar sulke beweringe maak.
"Ek het geen verdere kommentaar en behou natuurlik die reg voor om my goeie naam te beskerm teen enige valse aantygings. Hierdie beweringe word natuurlik ten sterkste verwerp en dis baie jammer dat mense van ons gemeenskap tot op sulke laagtes sal daal ten einde hule eie agendas te bevoordeel."
* The chairman of the George Municipality's Internal Audit Committee resigned on Monday, just three weeks before his official retirement from the post.
Joe Stoffels served on the committee for seven years. In letters to the Municipal Manager, Trevor Botha, and the Minister of Local Government, Anton Bredell, Stoffels expresses his unhappiness regarding the appointment of DA Secretary of the George Constituency, Flip de Swardt, and Roslyn Saptoe as new members of the Internal Audit Committee.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'