GEORGE NUUS - Mentors word gesoek vir kinders wat deel is van 'n nuwe jeugprogram, By Grace, op die Outeniqua-navorsingsplaas net buite George.
Die organiseerder en voorsitter van By Grace, Lucinda Smit, sê hulle sien reeds uitstekende vordering in gedrag onder die kinders, maar hulle kort mense wat met die kinders oor onderwerpe soos dwelms, drank en seks kan praat.
Smit het die program in Januarie begin toe sy opgelet het dat die jeug op die plaas besig is om die pad byster te raak.
"Die kinders was besig met die verkeerde goed. Hulle het begin eksperimenteer met dagga en het gedurig onder mekaar baklei. My seun is deel van die jeug en ek wou nie iets net vir my seun doen nie, maar iets om die hele gemeenskap te help.
"Daar is niks vir hulle om op die plaas te doen nie," sê Smit.
Daar woon tans 13 kinders, meestal seuns, die program by. Dit begin Vrydagaande 18:00 en bestaan uit verskeie aktiwiteite om die kinders besig te hou en te vermaak. Belangstelling groei so dat selfs kinders van die dorp wil deelneem.
Smit beoog om Saterdae ook aktiwiteite te organiseer wat veral daarop gemik is om ouers betrokke te kry sodat hulle tyd saam met hul kinders kan spandeer.
Enigiemand wat betrokke wil raak kan vir Lucinda Smit kontak by 064 999 3598.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’