Update Video
RIVERSDAL NUUS - Dag twee van die jaarlikse Wes-Kaapse Skole Interdistrik-netbaltoernooi was vandag in volle swang by Hoërskool Langenhoven in Riversdal.
Spanne van regoor die Wes-Kaap en Karoo het mekaar die stryd aangesê in ’n reeks kompeterende wedstryde wat gekenmerk is deur puik spel en sportmangees.
Die toernooi, wat vanjaar spelers van ouderdomsgroepe o. 11 tot o. 18 insluit, bied aan talentvolle netballers die geleentheid om hul vaardighede ten toon te stel op provinsiale vlak.
Ondersteuning vanaf die pawiljoene was merkwaardig, met ouers, afrigters en belangstellendes wat elke beweging op die bane entoesiasties volg.
Van die spanningsvolste wedstryde van die dag was dié tussen die o. 18-spanne van Eden en West Coast.
In ’n fisieke, maar vaardige kragmeting het albei spanne hul tegniek en strategiese spel ten toon gestel - ’n ware hoogtepunt op dag twee.
Die drie dae lange toernooi, wat tot Saterdag 19 Julie duur, sluit spanne uit sewe distrikte in: Eden, Overberg, Weskus, Kaapse Wynland, Sentraal-Karoo, Doves en Disas.
Meer as 150 wedstryde word op sewe netbalbane beslis, en die eindstryde beloof om die week se aksie met flair af te sluit.
Video: Ben Snyman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’