GEORGE NUUS - Jaylin Cupido (23) van George, 'n finalejaarstudent in praktiese musiek aan die Universiteit van Stellenbosch, het onlangs aan die Vyfde Nasionale Orkesdirigentkompetisie in Kaapstad deelgeneem.
Hy sê dis 'n groot voorreg en dat dit vir hom 'n nuwe wêreld van ongekende moontlikhede oopgemaak het.
Die kompetisie word in samewerking met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes aangebied en vind driejaarliks plaas.
Deelnemers word die geleentheid gebied om meesterklasse te ontvang by professor Maestro Arjan Tien van die Maastricht Conservatoire in Nederland. Voormalige wenners van hierdie gesogte kompetisie sluit in die dirigente Brandon Phillips, Xavier Cloete en Chad Hendricks, wat almal suksesvolle loopbane in die musiekindustrie beoefen.
Jaylin skryf sy liefde vir musiek toe aan sy familie en wou as seun graag musiekaktiwiteite beoefen. Hy het toe by die UCC Brigade aangesluit waar hy trompet leer speel het, maar wou formele lesse neem sodat hy kon leer note lees.
Hy het egter nooit die geleentheid gehad nie, totdat hy in 2014 as gr. 10-leerder musiek as vak by Hoërskool George geneem het. Jaylin het daar en dan besluit dat hy musiek wil gaan studeer.
Jaylin Cupido saam met professor Maestro Arjan Tien van die Maastricht Conservatoire in Nederland.
Sy onderwyser, Colette Coetzee, het hom aangemoedig om vir die musieksertifikaatprogram by die Universiteit van Stellenbosch in te skryf en dit is hier waar Jaylin werklik floreer het. Na twee jaar in die program het hy 'n beurs verwerf om 'n diploma in praktiese musiek te studeer waar hy spesialiseer in trompet en dirigeerkuns.
Jaylin beskryf sy ervaring in die kompetisie as een wat hom motiveer om meer en beter te doen. "Al weet jy jy is nie op 'n gevorderde vlak nie, vat net die kans," is sy raad.
Hierdie talentvolle jong man is een van die studentdirigente van die universiteit se instrumentale ensembles. Hy speel ook trompet in die koperblaas-ensemble sowel as die universiteit se jazzorkes.
Verder is hy 'n lid van die wêreldbekroonde universiteitskoor (USK) asook die kamerkoor. Hy beoog om volgende jaar 'n gevorderde diploma in dirigeerkuns te voltooi.
Jaylin Cupido
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'