Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Nadat 'n plaaslike inwoner, Jandré Windwaai, die afgelope naweek goed gevaar het in 'n B-Boy Dancer-kompetisie (briekdans) in Kaapstad, wink internasionale deelname vir hom.
Die 29-jarige Windwaai het aan die 'Breaking for Gold Cape Town Qualifier' deelgeneem en gewen.
Tydens die afgelope naweek se kompetisie het die topsestien deelnemers gekwalifiseer vir deelname aan die nasionale kompetisie op 3 September in Kaapstad. Die twee topdeelnemers in die kompetisie gaan Suid-Afrika later vanjaar in Suid-Korea verteenwoordig.
Windwaai het dit beskryf as akrobatiese dansbewegings wat mens met jou liggaam uitvoer.
Dit is al as 'n kunsvorm beskryf en deesdae word dit ook 'n sport genoem. Dit is opgeneem as 'n sportkode vir die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk.
Volgens hom het hy 11 jaar gelede begin met die sport. Die afgelope vyf jaar doen hy dit professioneel. Hy het destyds saam met vriende na 'n vertoning gaan kyk. Dit het hom geïnspireer en gemotiveer. Hy en 'n paar vriende het daarna so 'n groep begin. Hy is deesdae betrokke by 'n plaaslike groep, Diversity.
Hy het dit as 'n moeilike sport beskryf. "Dis baie harde werk. Dit verg toewyding en uithouvermoë."
VIDEO: Plaaslike inwoner presteer
As iemand daarmee begin, is dit by die basiese en dit is stap vir stap. "As jy aan die begin deelneem, leer jy byvoorbeeld koördinasie en om sterk te wees."
Hy verwag dat die sport gaan groei soos dit meer bekend word en fondse en borge beskikbaar word.
Windwaai het grootgeword in Pacaltsdorp en geniet die sport. "Dit het my gered uit die strate en hou my besig."
Hy oefen gewoonlik drie tot vier dae per week vir twee tot drie ure per dag. Dit is gewoonlik na werk. Bedags is hy in die privaat sektor in die vervoerbedryf betrokke.
"Ek is hoopvol vir die kompetisie op 3 September." Die twee topdeelnemers wat dan in Suid-Korea gaan deelneem, sal nasionale klere ontvang. Hy sal baie graag eendag aan die Olimpiese Spele wil deelneem. "Dit sal baie kwaai wees."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'