Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Al ooit gedroom om Everest, teen 8 849 m die hoogste berg in die wêreld, uit te klim, maar die probleem is dat dit bietjie te ver van George is? Ontmoet Georgiete Lodelia Oosthuizen (36), Jacques Mouton (42) en Eddie Mouton (47) wat niks in hul pad laat staan nie en sommer oor 'n paar dae die hoogte van Everest hier in George teen die Outeniquaberge kaf gedraf het.
Kort nadat hulle dit voltooi het, het Eddie dit boonop sommer weer gedoen, wat beteken dat hy 'Everest' in bietjie meer as 72 uur twee keer uitgehardloop het.
Jacques en Eddie het terselfdertyd die 'Mariana trench' voltooi wat 10 944m onder seevlak die diepste punt op aarde is. Hulle het besluit om dit te doen omdat net die ophardloop tel vir die Everest deel. Met die op en af dele saam kon hulle die 'Mariana trench' voltooi.
Lodelia en Eddie het hulself ook in die geskiedenisboeke ingehardloop. Sover bekend is Lodelia die eerste vrou in Suid-Afrika wat 'Everest' op dié wyse voltooi het en Eddie die eerste persoon wat dit onophoudelik twee keer na mekaar gedoen het. Jacques het reeds verlede jaar Everest vir die eerste keer so voltooi.
Ons het dit gemaak! Jacques Mouton, Eddie Mouton en Lodelia Oosthuizen Saterdag nadat hulle die toppunt van "Everest" gehaal het.
Hulle het Dinsdag tyd gemaak om met George Herald te praat. Stilsit bestaan nie by hulle nie en Lodelia het Maandag al weer die Montagupas per fiets uitgery. Jacques en Eddie was reeds besig om hardloopplanne vir die week te maak. Die drietal ken mekaar al 20 jaar en deel 'n passie vir hardloop.
Op Vrydag 9 April om 10:00 het hulle aan die voet van die Outeniquaberge begin om agt keer na Georgepiek te hardloop. Teen Saterdagmiddag 18:00 was hulle klaar. Dit het fisies en emosioneel groot eise aan hulle gestel.
Kyk 'n video hieronder:
Hulle moes onder meer in die nag teen die berg uithardloop waar dit op sommige plekke moeilike terrein is.
Eddie het Saterdagaand net 'n bietjie gerus en teen 21:30 was hy weer op die berg. Jacques en Lodelia het agtergebly, maar Jacques het van die kere saam met Eddie tot bo gehardloop. Teen Maandagoggend om 10:30 was dit tyd vir vonkelwyn toe Eddie sy tweede hardlooptog voltooi het.
In die stadium oorweeg hulle nie om dit weer te doen nie, maar mens weet nooit wat gebeur in die toekoms nie.
Hulle het dit geniet, maar is dit eens daar is tye tydens sulke hardlopery dat jy jouself verwens omdat jy dit aangepak het. Vir hulle is hardloop 'n leefwyse en hulle kan hulself nie 'n lewe sonder hardloop indink nie.
Jacques het gesê dit het weer vir hom gewys 'n mens kan meer doen as wat jy dink jy toe in staat is.
Dit het ook gewys hoe belangrik vriende in die lewe is. Eddie het gesê hul vriendskap is nou sterker as ooit. Tydens so 'n geleentheid leer mens baie van jouself ken.
Lodelia het gesê die geleentheid het gewys hoe belangrik spanwerk is. Sy het al rug- en nekoperasies gehad, maar saam met haar twee maats kan sy bly hardloop.
Reg om te begin, Eddie Mouton, Lodelia Oosthuizen en Jacques Mouton kort voor hulle begin hardloop het.
Ever thought of going to the peak of the highest mountain on earth, Everest? The problem is it's a bit far from George. Meet Lodelia Oosthuizen (36), Jacques Mouton (42) and Eddie Mouton (47) from George. Last weekend they ran eight times up to George Peak - the equivalent of going up to the highest point of Everest. Eddie even did it twice.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'