Gallery
GEORGE NUUS - Besorgde inwoners van George eis antwoorde oor die situasie by Victoriabaai en het in 'n brief aan George Herald kritiek uitgespreek oor die algemene voorkoms van die gewilde toeristebestemming. Om hul argumente te staaf het hulle foto's saamgestuur.
In die skrywe word aangevoer dat die strand vuil is, relings gebreek is en vullis nie betyds verwyder word nie.
Kritiek word ook uitgespreek oor die toilette. Daar is geen houers vir toiletpapier nie en in sommige gevalle is daar nie deure en vensters vir die toilette nie. Hulle voer ook aan dat plaveisel meegee en vullisdromme roes. Een van die foto's verwys na 'n "geen honde" plakker/kennisgewing.
Die inwoners voer aan daar is geen kontrole by die oop deurgang nie, met maklike toegang vir motorfietse en selfs klein motors.
'n Onlangse foto van die beskadigde strand by Victoriabaai.
Die George-munisipaliteit het by navraag gesê Radie Loubser van die parke en rekreasie afdeling het Victoriabaai verlede week besoek. Sy mening is dat dit nie nou nodig is om die sand te hervestig nie. 'n Stormsterk see behoort die sand weer te hervestig. Indien nodig, kan daar nader aan Desember weer oor die situasie besin word.
Fotogalery: Besorgde inwoners trek aandag oor Vicbaai-situasie
Volgens hom is die plakker wat na geen honde verwys, nie die eiendom van George-munisipaliteit nie.
"Luidens die bywet word honde nie op die sandgebied van die strand toegelaat nie, maar wel aan 'n leiband op die sypaadjie-gedeeltes."
Die toilette word opgradeer.
Die toilet het geen deur nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'