GEORGE NUUS - 'n Inry-kerkdiens wat die NGK Blanco-gemeente die afgelope Sondag wou aanbied sodat meer gemeentelede as die huidige toegelate 50 bymekaar kon kom, is uitgestel tot verdere kennisgewing.
"Die brandweer en die Tuinroete-rampbestuursafdeling het laat weet die polisie het 'n landwye direktief op 8 September uitgestuur dat inrykerkdienste met meer as 50 mense onwettig is, ongeag die aantal voertuie," het ds. Francois Mulder, 'n leraar van die gemeente gesê.
Daar is toe teruggeval op 'n YouTube-erediens, soos dit die afgelope paar maande gedoen is.
Die inrykerk sou by die 4 Brothers-aartappelstoor plaasgevind het. "Jy sit in jou motor, luister na die preek en sang via jou radio of deur 'n oop venster vanaf die klankstelsel. Lae-krag-FM is wettig.
"'n Tegniese opstelling vanaf die klankstelsel via toerusting wat die sein uitsaai na die voertuie word gedoen. Die Outeniqualand NG kerk het al 'n hele paar inrydienste gehou," het Mulder gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'