GEORGE NUUS - Familie, vriende en kennisse moes hierdie week 'n besondere vrou en moeder, Ilze Sloet (64), groet nadat sy op 3 Augustus haar stryd teen longkanker verloor het.
Ilze, wat 42 jaar lank met die prokureur Johan Sloet getroud was, is in Februarie 2020 met kanker gediagnoseer en het tot die einde dapper teen die siekte geveg.
Sloet, wat 'n nooi Neethling was, het die grootste deel van haar kinderjare op Klein-Brakrivier spandeer en was welbekend in die area omdat sy deel was van 'n gesinsorkes genaamd, die Neethling-orkes. Sy het klavier, orrel asook trekklavier gespeel en ook gesing. Sy was die enigste dogter van Jan en Amor Neethling en het drie broers gehad.
Sy en haar eggenoot het mekaar op Klein-Brakrivier, waar die Sloets ook vakansies deurgebring het, ontmoet en na vier dae besluit hulle gaan eendag trou. Die aanvanklike vakansieromanse het enduit gehou.
Alhoewel sy haar B.Ed-graad in 1978 behaal het, het sy die laaste meer as 20 jaar haar eggenoot in sy praktyk bygestaan. Die laaste paar jaar het sy ook twee middae 'n week gehelp met Engels- en wiskundelesse by die Kumon-sentrum in George.
Terwyl haar kinders op laerskool was, was sy en haar man ook baie betrokke by Laerskool Blanco se wel en wee. Sy was tot haar dood 'n ware moeder wat diep betrokke was by haar getroude kinders en kleinkinders.
Sy laat haar eggenoot, drie kinders, drie skoonkinders en vier kleinkinders agter.
Haar troosdiens het vanuit die NG Kerk Blanco plaasgevind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'