GEORGE NUUS - 'n Proses om twee volwasse broers van Pacaltsdorp, wat nie by Binnelandse Sake geregistreer is nie, op die bevolkingsdatabasis te kry en vir hulle identiteitsdokumente uit te reik, neem nou bykans nege maande.
Die Lourens-broers, Dennis (wat in sy 50's geskat word) en Adam (ongeveer 60), is volgens familielede in Skimmelkrans gebore en het vir jare as tuinwerkers gewerk.
Dennis, wat in 'n opslaanhut in Pacaltsdorp woon, is 'n ruk gelede erg beseer in 'n aanranding en kan nie meer werk nie.
Hy wil graag aansoek doen vir ongeskiktheids-pensioen waarvoor hy 'n ID nodig het.
Dit is hier waar 'n goedhartige Pacaltsdorper, Isaac Korunna, na vore getree het.
Hy het hom oor die twee broers ontferm en hulle in Februarie na Binnelandse Sake geneem waar die aansoekproses begin is, maar hy is teleurgesteld in die hantering van die aangeleentheid.
Nadat die aansoek ingedien is, is Korunna ná ongeveer 90 dae in kennis gestel dat die broers hulle by die departement moet aanmeld vir 'n onderhoud.
'n Oom van die twee broers, Daniël Lourens (77), moes as informant optree ('n persoon wat hulle identiteit kon bevestig).
Korunna is hoogs ontsteld oor die disrespek van 'n amptenaar teenoor die bejaarde Lourens, wat ongeletterd is.
Tydens die onderhoud het die departement versoek dat die aansoekers dokumentasie soos doopseëls of geboortesertifikate moet probeer opspoor, maar dit was tevergeefs.
"Ek was in en uit by die kerk en ons het by die hospitaal navraag gedoen, maar kon geen rekords kry nie," sê Korunna.
Binnelandse Sake is dienooreenkomstig ingelig.
Daarna het die aansoekers vergeefs gewag op verdere kommunikasie van die departement. Toe Korunna onlangs weer navraag doen, moes hy uitvind dat 'n ouderdom-skatting deur 'n dokter vir die twee broers nog vereis word.
"Dit blyk dat hulle wel tydens die onderhoud daaroor ingelig is, maar dat hulle dit nie verstaan het nie. Ek dink werklik dat 'n komitee van hierdie aard baie meer kan doen om te verseker dat die aansoekers behoorlik verstaan wat aangaan. Dit is tog net ordentlik en menslik.
"Ek mag nie die onderhoud bygewoon het om hulle by te staan nie."
Mosiuoa Ngaka, Binnelandse Sake se distriksbestuurder vir Eden en Sentraal-Karoo, het by navraag gesê om 'n persoon oor die ouderdom van 14 jaar te registreer is 'n uiters uitgerekte proses omdat die departement doodseker moet maak dat die aansoeker 'n Suid-Afrikaanse burger is voordat 'n ID uitgereik word.
"Streng prosesse word gevolg en ons kan dit nie ignoreer nie. Verder is daar 'n komitee wat van tyd tot tyd sit waar die provinsiale hoof self teenwoordig moet wees vir die onderhoude met aansoekers.
In George is daar vier keer per jaar geleentheid vir onderhoude wanneer die provinsiale hoof hierdie area besoek.
Die provinsiale hoof het wel in hierdie geval tydens die onderhoude aangedui dat 'n ouderdomskatting van 'n dokter nodig sal wees.
Ons moedig mense aan om hul kinders met geboorte te registreer, want hoe ouer 'n persoon word, hoe moeiliker is dit en hoe langer duur die proses."
Korunna het Woensdag laat weet die dokter wou nie 'n ouderdomskatting doen nie, waarna Binnelandse Sake versoek het dat 'n kliniese verslag van die Pacaltsdorp-kliniek en 'n beëdigde verklaring van die polisie verkry word.
Dié dokumente is vroeër vandeesweek ingehandig.
Korunna sê die Lourens-broers se oorlede ma is nooit in die bevolkingsregister opgeneem nie. Hulle het nog twee broers en 'n suster wat in Rosedale woon.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'