GEORGE NUUS - Die opofferings van 'n groep vrywilligers om plante en blomme by 'n groot winkelsentrum te verkoop, help dat die Irma Bruschi-tehuis, waar kankerpasiënte kan tuisgaan, sy deure kan oophou. Die tehuis word deur Kansa bedryf.
Dit was deel van 'n geslaagde fondsinsameling wat op 15 en 16 Oktober by die Garden Route Mall gehou is.
Rita Marx, 'n Kansa-vrywilliger wat by die organisering betrokke was, het gesê 'n uitstalling oor die sorghuis het die publiek se aandag getrek.
"Kansa het groot waardering vir die bestuur van die Garden Route Mall vir die geleentheid, ook vir die donateurs van bydraes, plante en blomme, die publiek se ondersteuning en veral ook vir die vrywilligers gemoeid met hierdie poging."
Angela Appels, bestuurder van die Irma Bruschi-tehuis, het Maandag 25 Oktober die vrywilligers bedank vir hul hulp.
Sy het gesê die huis is by Merrimanstraat 103 in die stadskern. Dit is reeds op 15 Julie 2010 gevestig en oor die jare is duisende mense gehelp.
Die doel is om verblyf te verskaf aan pasiënte wat van ver moet kom vir toetse en behandeling. Plaaslike mense word ook daar gehuisves as hulle byvoorbeeld vervoerprobleme het. Altesaam 12 mense kan op 'n slag daar tuisgaan en daar is ook kombuisgeriewe.
Kamers in die Irma Bruschi-tehuis
Kamers in die Irma Bruschi-tehuis.
Volgens haar het die Covid-19-situasie hulle gekortwiek. Met die streng inperking kon mense nie daar tuisgaan nie, maar dit is nou weer oop en daar is op die oomblik vier pasiënte.
Dit is 'n nie-winsge-wende organisasie en hulle is baie afhanklik van bydraes van die publiek. In 'n stadium tydens Covid-19, het alle fondsin-samelings-projekte tot stilstand gekom, maar elke bietjie help, het sy gesê.
Die Irma Bruschi-tehuis in Merrimanstraat.
Die vrywilligers wat plante en blomme by die Garden Route Mall verkoop het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'