Gallery
GEORGE NUUS - Soethoutjiestraat se mense was verlede Donderdagoggend reg vir die media.
George Herald is na verskeie huise in die nuwe uitbreiding in Golden Valley, Blanco geneem.
"Ons noem ons plek Kingston Gardens," het Lorraine van Schalkwyk gesê. "Want as jy mooi kyk, lê ons aan die voet van die berg - die reus. En ons straatname is almal inheems: Soetpatat-, Kankerbos-, Laventel-, Mensvaring- en Bokboegoestraat."
Die eerste begunstigdes van dié behuisingsprojek van die provinsiale departement van menslike nedersettings het op 21 Oktober 2021 hul huise van minister Tertuis Simmers ontvang. George Herald het die geleentheid bygewoon en dekking daaraan verleen (sien die skakel vir die artikel aanlyn by www.georgeherald.com).
Die Golden Valley-behuisingsprojek het in 2019 begin, met 'n begroting van sowat R29 miljoen. 'n Totaal van 133 huise is teen Desember 2021 aan begunstigdes oorhandig.
Nou, 18 maande later, staan huiseienaars op moedverloor se vlakte met al die probleme wat hulle met hul tuistes ondervind. Van die huise is van muur tot muur met muf oortrek. In die een huis moet kinders met ouers 'n kamer deel, want die plafon in die tweede slaapkamer is besig om in te val. Nog 'n inwoner kla dat sy al haar gloeilampe elke drie maande moet vervang, want om een of ander rede bly hulle bars.
"En dan slaan my krag af. My kragboks het ook al aan die brand geslaan," het sy gesê.
By Maria Saaiman se huis is niemand tuis nie, want sy is met haar TB na die kliniek. Haar hele huis is oortrek met muf.
Maria Saaiman se huis is oortrek met muf. Sy is 'n TB-lyer.
Een van die ouer tannies is ook nie tuis nie, want sy bly vir die grootste deel van die week by haar familie. "Haar krane bly lek, sy kan dit nie vat nie," het Lorraine gesê. Nog 'n inwoner kan nie een van die ligpunte in haar huis gebruik nie.
"Ja, ons het destyds al die klagtes aangemeld. En daarna is ons na die munisipaliteit, en na provinsie. Dit voel of niemand belangstel om te help nie. Ons moet ons eie geld gebruik om ons huise reg te maak. Mens moet net ja en amen sê vir alles. 'Wees dankbaar' het die een man vir my gesê."
Volgens Johnny Johnson is die probleem dat die ganse behuisingsprojek op 'n vleiland gebou is. "Soveel van ons sukkel met damp in ons huise," het hy gesê. "Letterlik elke huisgesin het een of ander issue."
FOTOGALERY: Huis probleme in Golden Valley, Blanco
Aldred Kaffoen reken weer die planne is substandaard: "Ek het nog nooit gehoor dat, in ons civilised wêreld, huise sonder ventilasie gate gebou word nie! En die planne is goedgekeur."
Wat sê die owerhede?
George-munisipaliteit se terugvoer op drie van die klaers se huise waaroor navrae gestuur is, dui daarop dat die foute en defekte wat binne die aangewese drie maande tydperk aangemeld is, reggemaak is. Lauren Waring, munisipale direkteur vir menslike nedersettings, beplanning, ontwikkeling en eiendomsbestuur, het benadruk dat daar 'n drie maande tydperk is wat begunstigdes het om gebreke aan te meld, en nie 12 maande nie.
"Die kontrakteur sal dan al die gerapporteerde probleme regmaak en 'n finale voltooiingsertifikaat sal uitgereik word waarna die retensie op die betrokke huis vrygestel sal word. Daarna sal die verpligting van die kontrakteur ophou. Daar is 'n een jaar waarborg op die dak en 'n vyf jaar NHBRC Strukturele waarborg op die boonste struktuur," het Waring gesê.
"Die besonderhede van die probleem-tydperk en vereistes word aan die nuwe huiseienaar gekommunikeer, om hulle bewus te maak van hul verantwoordelikhede en rolle. Dit is jammer dat sommige begunstigdes wel van die munisipaliteit verwag om ten volle verantwoordelik te wees vir deurlopende instandhoudingskwessies, soos gebreekte vensterruite, probleme met deure en toilette."
Terugvoer van die provinsiale departement van menslike nedersettings word afgewag.
Ricardo Erasmus, 'n entrepreneur, verkoop hout aan die gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’