GEORGE NUUS - As ou voertuie en veral Italiaans vervaardigde motors jou ding is, omkring solank die datums 11 en 12 Februarie op die 2023 kalender.
Die George-oumotorskou vind dan by Eden HTS plaas. Dit sal die 26ste keer wees dat dit plaasvind.
Groot belangstelling bestaan reeds vir die skou want dit sal die eerste keer wees dat die skou in gewone omstandighede na Covid-19 kan plaasvind.
Met vanjaar se skou was daar beperkings op toeskouergetalle as gevolg van Covid-regulasies, maar vir aanstaande jaar se skou is dit nie meer van toepassing nie.
Besonderhede is vanoggend 10 November deur die organiseerders by die Protea Hotel King George bekendgemaak. Ofskoon die tema vir 2023 se skou Italiaans is, sal daar ook ander fabrikate, motorfietse, ou trekkers en modelvoertuie te sien wees.
Alewijn Dippenaar, een van die organiseerders, het gesê Italianers is passievolle mense. Mens sien dit in die ontwerp van hul motors.
George-burgemeester Leon van Wyk, wat ook vanoggend se geleentheid bygewoon het, het gewys op die belangrikheid van die skou. Hy het onder meer verwys na die rimpel effek wat dit op George se ekonomie het.
Leon van Wyk, George-burgemeester, by die bekendstelling vanoggend.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'