GEORGE NUUS - Maak jouself reg vir baie positiewe energie in George, want sowat 300 ACVV-vrywilligers en maatskaplike werkers van oor Suid-Afrika besoek van Sondag tot Woensdag ons stad.
Die ACVV se 64ste nasionale kongres word van 2 tot 4 September in die George-stadsaal gehou wanneer die vereniging se gemeenskapsgedrewe, omgeemense ook hulle 115de verjaarsdag vier.
Die kongres word Sondagaand ingewy met 'n kerkdiens gelei deur dr. Koos van der Merwe in die NG Moederkerk. Van der Merwe, 'n bekende sanger, tree dan ook as gaskunstenaar op. Talle swaargewigte op verskeie terreine sal deur die verloop van die kongres optree.
'n Robot het nie 'n hart nie
Die amptelike openingsaand is Maandag by Hoërskool Outeniqua wanneer dr. Theuns Eloff uitbrei oor die kongrestema "'n Robot het nie 'n hart nie". Dié tema benadruk die rol van die ACVV - 'n mense-mens vereniging met 'n besonderse groot en warm hart.
Die ACVV, die oudste welsynsorganisasie in die land, se reis het op 1 September 1904 begin. Op dié dag is een van die grootste, mees betekenisvolle saamreise in ons land van stapel gestuur - 'n saamreis van vroue, nie in hul indrukwekkende derduisende nie, nooit met dawerende basuingeskal en wuiwende vaandels nie, nooit met swier en glans nie, maar altyd en oral met begeestering - innerlike begeestering gebore uit die geloof in Christus wat lede laat streef om te dien.
Van links is die voormalige ACVV HUB Shanie Boshoff, nas. voorsitter Ria Abel, skrywer Rhoda Kadalie en George-voorsitter Rina de Swardt.
Suksesresep
Die ACVV se hoof- uitvoerende beampte Elsje Büchner sê die vereniging se sukses is te danke aan 'n positiewe benadering teenoor alle mense, respek vir en aanvaarding van die individu, belangstelling en geesdrif vir die organisasie se werk, die vermoë en bereidwilligheid om saam te werk, betroubaarheid, verantwoordelikheidsin, insig in en kennis van die werk van die vereniging.
Die ACVV se kernwaardes is:
- Deernis: Koester, ontwikkel, beskerm en versorg kwesbare mense.
- Menswaardigheid: Respekteer alle mense.
- Integriteit: Tree eerlik op en doen soos onderneem.
- Uitnemendheid: Werk doelgerig aan uitmuntende diens.
- Verantwoordbaarheid: Tree verantwoordelik op teenoor alles wat aan die ACVV toevertrou word.
ACVV hoog aangeslaan
Die gerekende politieke en sosiale kommentator en skrywer, Rhoda Kadalie, het tydens 'n fondsinsameling van die ACVV in George 'n groot pluimpie aan die vereniging gegee. Sy het gesê die vereniging doen sulke goeie werk dat indien sy president van Suid-Afrika was, die ACVV die departement van maatskaplike ontwikkeling sou bestuur.
Kadalie het die vereniging se vroue geprys wat sonder enige vergoeding ander in nood help.
"Die ACVV het ongelooflik goed aangepas by die nuwe Suid-Afrika. As organisasie was julle nog altyd julle tyd vêr vooruit. Die ACVV het welsyn sy taak gemaak. 'n Taak gebaseer op die saak van diegene wat gemarginaliseer is," het Kadalie gesê.
Program
Die kongres in die George-stadsaal se program sluit in besigheidsvergaderings, insiggewende praatjies en vertonings. Sielkundige Louis Awerbuck gesels oor hoe boelies begin en eindig, en prof. Stephan Joubert deel sy insigte oor hoe vrywilligers in 2019 "lyk" en wat maak dat iemand tyd en geld vir 'n saak gee. Sielkundige Gustav van Greunen praat oor demensiepasiënte en hulle versorging, terwyl almal geweldig uitsien na Sandra Prinsloo se eenvrouvertoning Moedertaal.
Tydens Dinsdagaand se Bou jou eie Burger-ete sal ACVV-ambassadeur, Elsabe Aldrick, kongresgangers op dié lekker loslitaand laat skater met haar praatjie, Lag maak die lewe lekkerder.
ACVV George se Christelle Botha, Rina de Swardt (voorsitter), Louise King en Riana Lategan. Foto's: Ilse Schoonraad
Woensdag 4 September is huistoegaantyd, maar nie voor die ACVV hulle 115de verjaarsdag behoorlik gevier het nie. Op die spyskaart is Die eggo in jou oë deur Jannie du Toit, terwyl akteur en meesterstorieverteller, Johny Klein, gaan voorlees uit Ferdinand Deist se Die pomporrelkonsert en ander Sandveldstories. Die vertonings word gevolg deur 'n noenontbyt.
Saam in diens
Die ACVV is 'n toegewysde kinderbeskermingsorganisasie en die vereniging se hoofdoel is die beskerming van kinders deur opgeleide maatskaplike personeel.
Dienste word egter ook aan ouer persone gelewer en die vereniging gee aandag aan die hereniging van die gesin.
Die ACVV se leuse is: Saam in diens van die gemeenskap / Together in service of the community / Sikunye kwiinkonzo zoluntu - gewis die beste, en moontlik enigste manier om te bou aan 'n beter land en lewe.
Om meer oor die ACVV te wete te kom en as vrywilliger betrokke te raak, kontak Rina de Swardt by deswardt.rina13@gmail.com of ACVV George by 044 874 2030 / acvvgeorge@telkomsa.net.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'