GEORGE NUUS - Hoërskool Heatherlands wat voorheen as Die Bult bekend was, het in Maart 2016 'n hoofstroomskool geword. Dit is met dié verandering dat hulle vanjaar ook aan al die sportkodes gaan deelneem.
Die skoolhoof, Clive Zinkfontein, sê die skool het voorheen net sosiaal en op uitnodiging deelgeneem. Hy sê hulle is egter nuut geregistreer by die George skole-sportraad, en gaan voortaan aktief deelneem.
Hy sê ook hulle leerders betaal nie skoolfonds nie, en dus kry die skool slegs 'n skrale subsidie van die departement. "Mense wat die geskiedenis van die skool ken sal weet dat dit 'n groot oppervlak is wat onderhou moet word, en ons begroting laat dit nie toe nie."
Hy sê omdat daar ongeveer 500 leerders is, is die subsidie nie baie nie, en dek dit nie alles wat die skool benodig nie. Dis hoekom hulle vanjaar 'n bydrae van die ouers vra. Die skool het ook besluit om beter gebruik te maak van hul koshuisgeriewe, wat hulle aan 'n privaat vliegskool verhuur, en dus ook 'n inkomste lewer.
Dit is waar Erica Brown, die plaaslike wyksraadslid inkom. Sy het die skool besoek met die ingang van die nuwe skooljaar en uitgevind die skool het geen sporttoerusting of klere nie.
Brown het verneem die fasiliteite by die skool, wat voorheen van die bes ontwikkelde sportfasiliteite was, het baie agteruitgegaan met die vermindering van finansiële bronne. Sy het haar ondersteuning aangebied om die skool te help.
Raadslid Erica Brown gesels met Clive Zinkfontein, hoof van Hoërskool Heatherlands. Foto's: Zolani Sinxo
Clive Zinkfontein sê sy skool is nou deel van die distrik se sportraad en benodig toerusting.
Zinkfontein sê hulle het 'n swembad wat opknappingswerk nodig het, 'n rugbyveld, sokkerveld, netbalbane en tennisbaan wat aandag benodig.
"Veral ons rugby- en sokkervelde asook netbalbane het onmiddellik aandag nodig omdat ons dit binnekort gaan gebruik."
Hy hoop die departement van sport, kultuur en rekreasie gaan met hulle hande vat, maar donateurs is ook welkom om die skool te help. Sy droom is om 'n groep, Vriende van Heatherlands Hoërskool, te begin sodat mense wat kan en wat graag wil help die skool kan bystaan.
"Die groep se doel sal wees om mense met kennis van afrigting te kry vir die onderskeie sportkodes of donasies en finansiële bydraes."
Brown was optimisties oor opknappingswerk wat die swembad weer nuut kan laat lyk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'