GEORGE NUUS - Maak Voëlklip 'n simbool van hoop, eerder as dood. Dit is die boodskap van Pierre Janse van Rensburg, 'n bekende sielkundige van George na aanleiding van die talle voorvalle van selfdood by Voëlklip.
Juis verlede Vrydag, 20 Januarie, het 'n vrou met 'n bakkie daar afgery en die vorige Saterdag, 14 Januarie, was daar nog 'n voorval van selfdood.
Janse van Rensburg het benadruk hy kan nie kommentaar lewer oor enige spesifieke voorval nie. Hy was nog nooit by Voëlklip nie, maar dra in die algemeen kennis van die gebeure daar.
Hy sê mense wat erge depressie beleef, angsversteurings het en afhanklik is van verslawende middels, soos alkohol en/of dwelms, kan neig tot selfdood en dit selfs uitvoer.
Daar is mense wat daaraan dink en dit selfs beplan. Ander doen dit impulsief. Hulle doen dit omdat hulle geen uitkoms sien nie en het hul vrees vir die dood oorwin.
Baie mens het selfdoodgedagtes, maar stel nie planne in plek om dit uit te voer nie. Hulle sal oor 'n tydperk vrae vra oor die dood en sal byvoorbeeld pille sluk of hulself probeer vergas. Sulke gevalle is baie keer 'n noodkreet.
Daar is egter ook mense wat oorgaan tot gewelddadige metodes soos om hulself te hang, te skiet of van 'n plek af te spring. Die demografie van die plek wat hulle kies om dit te doen speel 'n rol soos byvoorbeeld of dit maklik toeganklik is, soos Voëlklip en Van Stadensbrug.
Gegewe die talle voorvalle by byvoorbeeld Voëlklip word dit vir sulke mense 'n "beproefde metode". Hulle hoor en lees daarvan in die media. Dit sluit sosiale media in. Sommige idealiseer selfs selfdood. As 'n bepaalde plek moeilik toeganklik is, sal hulle wel twee keer dink.
Sulke mense kan gehelp en bygestaan word deur psigiatriese en sielkundige hulp. Sover moontlik sal dit ook help as sulke mense 'n goeie ondersteuningstelsel het. As hul familie daarvan bewus is, kan hulle help. Dit is egter baie belangrik dat die betrokkene eers daartoe instem.
Janse van Rensburg het gesê dis 'n komplekse aangeleentheid en daar is nie maklike oplossings nie.
Hy glo dit is dalk 'n goeie idee om te oorweeg om 'n inligtingsbord by Voëlklip te plaas waarop inligting verskaf word waar hulp gekry kan word.
"Die idee is om voorkomend op te tree. Dit moet omgedraai word en eerder 'n simbool van hoop as die dood wees."
Die pad waarop die vrou oor die afgrond gery het.
Ondersoek gaan voort
Die polisie se ondersoek na verlede Vrydag, 20 Januarie, se voorval by Voëlklip gaan voort. 'n Wit Toyota-bakkie het vroeg die middag oor die afgrond gery aan die suidekant waar die grondpad ooswaarts gaan.
Die liggaam van die oorledene is verwyder, maar die Toyota bakkie is nog in die see.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek is geopen.
Hy het bevestig dat 'n 31-jarige vrou afkomstig van Groot-Brakrivier in die voorval gesterf het. Geen gemene spel word vermoed nie. Die polisie gaan nie die naam bekendmaak nie.
Chantél Edwards, woordvoerder van die George-munisipaliteit, het gesê die eiendom waarop die voorval plaasgevind het, is in privaat besit. Dit beteken die munisipaliteit kan geen geld bestee vir enige optrede daar en/of toegangsbeheer daar uitoefen nie.
Die toneel waar die voorval plaasgevind het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'