Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Aidan Hörr (12), 'n skoolseun van Denneoord, het met 'n blink plan vorendag gekom om sy sakgeld aan te vul. Hy het sy eie tuindienste begin en wil ook eendag van die geld gebruik om vir sy studies in meganiese ingenieurswese te betaal.
Aidan is 'n gr. 7-leerling aan Laerskool George-Suid. Ofskoon dit nog in 'n vroeë stadium is, sny hy al 'n paar mense se gras in die omgewing waar hulle woon.
Sy pa, Fritz Hörr, het vertel dat Aidan al van kleins af belangstelling in grassnyers getoon het. Toe hy baie klein was, het sy ouers vir hom 'n plastiese speelgoedrantsnyer gekoop.
Later het sy ouers vir hom 'n regte klein elektriese rantsnyer gekoop, maar dit nie aan die elektrisiteit gekoppel nie. Klein Aidan het dan met die rantsnyer in die tuin gespeel. Toe hy omtrent sewe jaar oud was, het hulle die rantsnyer aan elektrisiteit gekoppel en Aidan het sy pa in die tuin gehelp.
"As pappa in die tuin werk, wou hy help."
Videos: Aidan Hörr het sy eie tuindienste begin
Sowat twee jaar later het Aidan gesê hy wil help om die gras te sny. Een middag toe Fritz die gras wou sny, het die grassnyer nie gewerk nie. Fritz het 'n middagslapie gaan neem. In een stadium het hy wakker geword van die klank van 'n grassnyer. Dit was hul eie grassnyer wat Aidan intussen reggemaak het.
Aidan Hörr by van sy grassnytoerusting.
'n Tydjie gelede het 'n familie-vriendin genoem dat haar gras gesny moet word. Aidan het gaan help en dit is waar dit in alle erns begin het. Hy het later ook die bure en 'n oom 'n entjie in die straat af se gras gesny. Hy het al 'n navraag van mense in Wilderness gehad, maar hy moes dit ongelukkig van die hand wys omdat hy nie 'n bakkie het om sy toerusting te vervoer nie.
Volgens Fritz het Aidan al van sy bestaande sakgeld gebruik om toerusting te koop.
Toe hy en sy vrou, Tertia, by Aidan wou weet of hy nie eerder elektroniese speletjies wou koop nie, het hy dit van die hand gewys en grassnytoerusting gekoop. Hy besit nou twee grassnyers en 'n rantsnyer (weed eater).
Fritz het benadruk Aidan se skoolwerk is prioriteit en hy gee laat in die middae en naweke aandag aan die tuindienste. Waar nodig, help Fritz.
Aidan het vertel hy hou baie daarvan om masjiene reg te maak. "Ek is op my gelukkigste as ek gras sny."
Wanneer hy eendag sy rybewys en genoeg geld het, wil hy 'n bakkie koop. Hy hou intussen styf duim vas dat sy pa 'n bakkie sal koop.
Hy geniet die tuindienste, dis harde werk. Mense betaal hom genoeg, maar geld is egter nie die hoofsaak nie. Hy doen dit uit die liefde daarvoor en om ekstra sakgeld te verdien.
Soms help sy sussie, Nadia, hom om die paadjies skoon te vee nadat hy gras gesny het. Aidan betaal haar daarvoor.
Aidan voorsien nie dat hy binnekort kompetisie vir bestaande grassnydienste sal wees nie, maar hy hoop om eendag sy eie groot onderneming te vestig.
Aidan Hörr en sy pa Fritz, kyk na die grassnytoerusting. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'