GEORGE NUUS - Eerste aanduidings is dat George se ekonomie goeie voordeel getrek het uit die afgelope feesseisoen,maar ongelukkig het dit nie deurgesyfer na al die dele in die stad nie. Kommer is veral uitgespreek oor die stadskern.
Leon van Wyk, George se burgemeester, het Saterdag, 5 Januarie aan George Herald gesê voorlopige syfers dui daarop dat George 'n baie goeie seisoen gehad het.
Baie van die sakelui praat van 'n hoër omset. Een van die restaurant-eienaars het vir hom gesê sy jaar tot jaar omset was 20% en meer.
Volgens Van Wyk kon mens dit ook in terme van die verkeer sien. Daar was voertuie van al die provinsies. Restaurante was besig en strande was baie besig.
Daar was heelwat meer markte en hulle het langer oop gebly. In sekere gevalle selfs 'n paar weke.
Dit is alles goed vir George se ekonomie en het uiteindelik 'n impak op werksgeleenthede.
Die lughawe was ook besig. Op sommige dae was daar 12 vlugte uit Johannesburg. Dit beteken dat sowat 1700 passasiers per dag in die streek gekom het. Dit beteken weekliks sowat 12000 mense.
Saterdag, 6 Januarie was daar 10 vlugte van George na Johannesburg.
Dit was ook duidelik dat meer buitelandse besoekers vir die tyd van die jaar hierheen gekom het.
Die seisoen het al laat November begin en sy piektyd was van 15 Desember tot die afgelope week.
Verblyfplekke was redelik vol en gegewe die huidige ekonomiese situasie is dit duidelik dat mense nou vir korter tydperke kom.
Hy het sy dank teenoor alle rolspelers uitgespreek vir hul hulp in die tyd.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer, het in reaksie oor sakeaktiwiteite in George die afgelope feesseisoen, gesê onbevestigde en eerste aanduidings is dat dit uit 'n ekonomiese oogpunt nie oral goed gegaan het nie.
Finale syfers sal eers na die skoolvakansie beskikbaar wees en dan sal 'n finale prentjie gevorm kan word.
Hy het in die algemeen kommentaar gelewer en spesifiek verwys na die stadskern.
"My terugvoering is dat dit nie oral so goed gegaan het nie. Daar was vakansiegangers, maar hulle het vir korter tydperke gekom. Mense kies nou goedkoper akkommodasie soos kampeerplekke eerder as die tradisionele plekke."
'n Prominente sakeman het aan die George-sakekamer gesê daar was baie voete in sy winkel, maar die spandering was minder as verlede jaar.
Volgens Cilliers is dit ook duidelik dat die uitdagings in die stadskern is baie groot.
Verbruikers verkies om eerder na die groot winkelsentrums te gaan as na kleiner sakenondernemings in die stadskern.
"Verkope by klein sakeondernemings was baie swak. Dinge soos verfraaiing van die stadskern, misdaad en parkering sal aangespreek moet word sodat onder meer toerisme voordeel daaruit kan trek."
*Informele gesprekke wat die verslaggewer met winkel-assistente en ander gehad het, het bevestig dat dit nie goed gegaan het in die stadskern nie. Een winkel-assistent het gesê dit was die swakste in 10 jaar.
By die Garden Route Mall was dit 'n ander storie. 'n Winkel-assistent het gesê hulle was baie besig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’