Elné Smit van Dumont-kelders sê almal is verheug om Herrie weer in sy pienk geboortepak te sien. "Toe ons die ou Pienk Olifant-drankwinkel gekoop het, het ons nie besef wat se sentimentele waarde mense aan die olifantjie heg nie. Ek en my pa, Harry van den Berg besef egter nou hoe belangrik Herrie vir die gemeenskap is en hy verwelkom nou al vir die afgelope twee weke weer almal in sy ou gedaante."
Van den Berg sê Herrie is baie tevrede met hoe Suid-Afrika asook George die sokkertoernooi aangebied het. "Jy kan sê hy is ‘tickled pink’. Hy was letterlik en figuurlik een van die grootste ondersteuners van die toernooi."
Keith Jacobs, wat self ‘n onderneming in Langenhovenstraat besit, sê hy is verheug
die olifant wys weer sy ware kleure. "Mens kan nie van so ‘n belangrike baken ‘n vertoonapie maak nie. Selfs mense in Engeland wat George al besoek het, weet presies waar die pienk olifant is. Die olifant was altyd pienk en moet dit bly."
Die pienk olifant het sy ontstaan te danke aan Herrie, ‘n denkbeeldige olifant wat in talle van CJ Langenhoven se stories sy verskyning maak.
Artikel en foto's: Ilse Schoonraad
.jpg)
So het Herrie gelyk in sy Bafana-pakkie.