GEORGE NEWS - Die instelling van gratis etensuur-konserte vir die publiek van George het meegebring dat meer mense goeie klassieke musiek kan hoor sonder om oor geld bekommerd te wees.
Daar is jaarliks twee reekse, in die herfs en die lente. Dit word aangebied in die NG Moederkerk wat oor 'n pragtige atmosfeer en baie goeie akoestiek beskik.
Goeie nuus vir musiekliefhebbers is dat die herfsreeks van etens-uurkonserte 'n aanvang neem op 10 April met 'n solo-uitvoering deur pianis Dalene Brits.
Klavierentoesiaste sal hierdie uitvoering 'n belewenis vind.
Ons is ook bevoorreg om op 17 April te kan luister na die puik jong sopraan Chanté van der Westhuizen wat 'n gebalanseerde program van opera, lieder en ander verrassings sal lewer. Sy word begelei deur Dalene Brits. Die daaropvolgende konsert is op 24 April en sal later toegelig word.
Die konserte word in die Moederkerk gehou tussen 13:00 en 14:00 op Woensdae. Donasies om aan die kunstenaars waardering te betoon, sal waardeer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’