Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die dankbaarheid van 'n groep leerlinge van Heidedal Primêr in Borcherds jeens gesondheidswerkers vir die groot opofferings wat hulle in die tyd van Covid-19 maak, is nou sigbaar by twee hospitale in George.
Gr. 3-, 5- en 7-leerlinge, van die skool het onlangs dankiesêplakkate gemaak en op Vrydag 25 Junie het hulle dit aan personeel van die George-hospitaal en Mediclinic George oorhandig.
Die leerlinge het gesien dat gesondheidswerkers onder baie druk verkeer en het die plakkate verlede kwartaal self gemaak. Dit het hulle twee tot drie dae geneem. Die skool is deeglik bewus van die hartseer wat Covid-19 bring want sy hoof, Irvin Scheepers, het in Desember as gevolg van Covid-19 gesterf.
Jerome Syfers, 'n onderwyser by die skool, het by Mediclinic George gesê die maak van die plakkate kom uit die kinders se harte. Dis om baie dankie te sê in die tyd van die pandemie.
Met die plakkate wil hulle ook 'n boodskap aan die gemeenskap stuur dat die protokolle en regulasies gehoorsaam moet word.
Xanadu van der Berg, 'n gr. 7-onderwyser, by die skool het gesê die leerlinge en die onderwysers het dit baie geniet om die plakkate te maak. Die leerlinge besef hulle moet die protokolle gehoorsaam. Die projek het hulle opnuut bewus gemaak van die situasie.
Onderwysers en leerlinge van Heidedal Primêr in Borcherds het Vrydag die Mediclinic George besoek om dankiesêplakkate te oorhandig. Hier is van links: Xanadu van der Berg, (gr. 7-onderwyser), Leano Seconds (onderhoofseun), Cecilia Siko, (onderhoofdogter) en Jerome Syfers (onderwyser).
Cecilia Siko, die onderhoofdogter, het gesê dit was nie moeilik om die plakkate te maak nie. Volgens haar is leerlinge bewus van die gevare van die pandemie.
Leano Seconds, die onderhoofseun, het gesê dit was baie pret om die plakkate te maak. Hulle was baie opgewonde om die plakkate by die hospitale te kon oorhandig.
Kassie Karstens, Mediclinic George se bestuurder, het gesê die hospitaal is baie dankbaar vir die gebaar. Dit gaan opgesit word in die noodgevalle afdeling waar baie mense deurbeweeg. "Ons besef ons kan nie alleen die stryd wen nie. Met die ondersteuning van die gemeenskap sien ons kans en het ons hoop."
Kyk 'n video hieronder:
Onderwysers en leerlinge van Heidedal Primêr in Borcherds het Vrydag Mediclinic George besoek om dankiesêplakkate aan personeel te oorhandig. Hier is Kassie Karstens (links) bestuurder van die hospitaal, Leano Seconds (onderhoofseun), Bernicois König (hospitaal sekretaresse), Cecilia Siko (onderhoofdogter), Desirè Maree (verpleegkundige), Xanadu van der Berg, (gr. 7-onderwyser) en Jerome Syfers (onderwyser). Foto's: Eugene Gunning
IN SHORT:
Learners of Heidedal Primary made posters to thank health workers for the work they do in these challenging times of Covid-19. They handed the posters to the George Hospital and Mediclinic George on Friday 25 June.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'