GEORGE NUUS - "Vandag protesteer ons vreedsaam, maar volgende keer mag dalk nie so vreedsaam wees nie," sê 'n ouer van Heidedal Primêr wat anoniem wil bly. Die ouer het gepraat tydens 'n vreedsame protes Dinsdag 30 Julie weens die stukkende heining van dié skool in Borcherds.
Ouers voel die stukkende heining skep 'n onveilige omgewing vir hul kinders omdat die sportterrein nou as 'n kortpad deur "skollies" gebruik word.
Op Woensdag 24 Julie is 'n negejarige seun na bewering deur meer as een skollie met 'n mes gejaag. Dit was die breekpunt wat ouers aangevuur het om 'n petisie te teken.
Kommentaar van ouers
Raadslede van die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) was teenwoordig om hul steun aan ouers te wys met sommige wat self kinders in Heidedal het.
Darryl Coeries, PBI-raadslid en ouer sê: "Die ouers is besorg oor hul kinders se veiligheid wat al telkemale in gedrang was.
Skollies gebruik dit as 'n deurpad en dreig die kinders en onderwysers, en word aggressief as hulle gekonfronteer word.
Ons wil nie wag tot iets ernstig gebeur voor die heining herstel word nie. Die ouers dring aan dat die WKOD spoedig moet ingryp en die heining vervang. Dit is klaar goedgekeur hulle moet dit net doen."
Johannes Snyman: "Die feit dat verkeerde elemente met skerp voorwerpe en somtyds met honde hier deurbeweeg veroorsaak probleme. Die kinders het nou ook beperkte ruimte om te speel en kind te wees. Dit stel ons kinders bloot aan dwelms en geweld."
Die WKOD het reeds goedkeuring gegee om die stukkende heining by Heidedal Primêr te herstel, maar sloer om dit te vervang. Foto: Jacques du Toit
Natasha Jordaan: "Die probleem is dat van die skoolkinders soms met die skollies vriende maak en sluit dalk aan by die verkeerde groep mense."
Martin Fillis: "Die kom al lank aan. Die heining is in 2023 al goedgekeur en ek verstaan nie hoekom hulle dit nie vervang nie. Skollies kom in, breek af en dreig ons kinders. Ons kan nie meer nie. Tot hier toe en nie verder nie."
WKOD kan nie sê wanneer hulle heining gaan vervang
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se antwoord gister op George Herald se navraag was dieselfde as voorheen - hulle kan in die stadium nie 'n datum verskaf vir die vervanging van die heining nie.
"Heidedal was op die lys vir 'n nuwe heining in die 2023/24 boekjaar, maar dit kon ongelukkig nie geïmplementeer word nie weens begrotingsbesnoeiings."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’