Update
GEORGE NUUS - Hartseer tonele het Saterdag op Outeniqua-park afgespeel nadat 'n toeskouer en die pa van een die spelers van Heidelberg-rugbyspan, langs die veld gesterf het.
Marcel Marais, skrumskakel vir Heidelberg se A-span, het in die Superliga A finaal teen Crusaders gespeel toe sy pa, James Petersen (57), beter bekend as Biza, op die pawiljoen inmekaargesak het.
In 'n onderhoud die week, het Marais gesê hy wou, nadat hy die nuus ontvang het, net wegkom uit die stadion.
Hy is kort na die einde van die wedstryd deur familielede oor die skielike dood van sy pa ingelig. Ondersteuners van Heidelberg het 'n bewoë Marais getroos terwyl hy in die ambulans geklim het wat sy oorlede pa weggeneem het.
Marais het Dinsdag aan George Herald gesê hy gaan sy pa baie mis. Sy pa se dood was 'n baie groot skok vir hom. Volgens Marais was sy pa op sy dag self 'n kranige rugbyspeler en 'n groot ondersteuner van Heidelberg.
"Hy het moeite gedoen om my wedstryde by te woon - selfs as ons op toer gegaan het."
Hy het sy pa as 'n stil man beskryf, maar hy het tog daarvan gehou om veral oor rugby te gesels.
"Ons was baie naby mekaar. Veral die laaste tyd toe hy siek was."
Wyle James Petersen (57)
Die begrafnisdiens vind Saterdagoggend om 09:00 vanaf die huis in Barlowlaan en 10:00 vanuit die JF Neumann Memorial Congregational Church plaas.
Benewens Marcel, laat hy sy dogter, Monita Marais, vier kleinkinders asook twee broers en twee susters agter.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoord-voerder, het by navraag gesê die polisiebeamptes aan diens by die wedstryd, is net voor 18:00 na die toneel op die pawiljoen ontbied.
Daar is hulle ingelig dat 'n man op die pawiljoen inmekaargesak en van 'n muur waarop hy gesit het, geval het. Hy is later deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar. Hy het vermoedelik aan 'n hartaanval gesterf.
Furnell Pretorius, kaptein van Heidelberg, het Maandag gesê die voorval het die span hard geslaan.
"Ons span en die gemeenskap is hard geruk." Volgens hom is Marcel 'n ervare speler en een van die span se steunpilare. Petersen was 'n groot ondersteuner van Heidelberg.
Kevin van Wyk, president van Crusaders, het namens die klub medelye met die familie van die oorledene betuig. Hy en ander klublede het na die wedstryd die kleedkamer van Heidelberg besoek om die span sterkte toe te wens.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het gesê hy was Maandag in kontak met die familie van die oorledene. Hy het namens die unie medelye en innige simpatie aan hulle oorgedra.
Hy is van plan om Saterdag die begrafnis by te woon. Brinkhuis het gesê dit was 'n ongelukkige voorval. Hy is tydens die wedstryd daaroor ingelig.
Brendan Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad, het ook simpatie met die familie van die oorledene en die breër rugbygemeenskap van Hessequa betuig.
Die liggaam van James Petersen word Saterdagaand weggeneem by Outeniquapark. Sy seun Marcel Marais is saam in die ambulans. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'