GEORGE NUUS - Presies 'n week voor die langverwagte filmweergawe van Hans steek die Rubicon oor se vrystelling môre, Vrydag 29 September, is inwoners van Groenkloof verlede Vrydag met die uiters gewilde verhoogstuk by Nostalgie Café verras.
Die befaamde akteur, Charlie Bouguenon, het die gehoor in die holte van sy hand gehad met sy eenmanvertoning.
Die boek, deur Rudie van Rensburg, is oorspronklik op RSG deur die legendariese Tobie Cronjé voorgelees en het honderde duisende luisteraars eindeloos vermaak.
Die filmweergawe van die boek met Pierre van Pletzen - Oubaas van 7de Laan - in die hoofrol, begin môre landswyd in teaters te wys. Die film gaan oor die manewales van rebelse bejaardes in 'n verkrampte ouetehuis, en ander legendariese akteurs in die film sluit in Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo and Nicola Hanekom.
Die rolprent, deur filmmakers Corné and Rene van Rooyen, sal vir seker vol teaters lok en is reeds as Beste Speelfilm by die Silwerskermfees in Kampsbaai aangewys.
Toneelstuk
In die toneelstuk vertolk akteur Charlie Bouguenon nie alleen die rol van Hans nie, maar ook dié van die 15 ander karakters.
Die karakters is natuurlik baie ouer as die 40-jarige Bouguenon, maar hy slaag heelhartig daarin om in die bejaardes se koppe te klim. En geen wonder nie, want onder die regie van Lizz Meiring is 'n produksie altyd 'n sukses. Hans steek die Rubicon oor het dan ook Vrydag 'n staande ovasie by Nostalgie Café ontvang.
Vervaardigers Johan van der Merwe en Ignatius van Heerden van Leftfoot Theatre Productions het Erica en Marius Gruber bedank vir die reëlings en glo dat dit net die eerste van talle vertonings in George sal wees.
En onthou - die fliek begin môre!
Charlie Bouguenon
Pierre van Pletzen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’